St. George’s het die tweede OK-Mamre-gemeenskap-7’s-toernooi gewen nadat hy Hillcrest in die eindstryd geklop het.Foto: David Rossouw


St. George’s het die tweede Mamre-OK-gemeenskap-7’s-toernooi gewen toe hy Hillcrest 22-7 in die bekereindstryd geklop het.

St. George’s, wat verlede jaar in die eindronde teen die gasheer, Mamre, vasgeval het, het Saterdag egter beter voorbereid opgedaag en ten spyte van ’n nederlaag in sy eerste wedstryd teen die mede-gasheer Hamlets steeds genoeg in die tenk oorgehad om met die louere weg te stap. Die verdedigende kampioen, Mamre, se lang rugbyseisoen het gewis sy tol geëis. Terwyl baie spanne weke gehad het om voor te berei, het die groentruie van Kenny Stadler weens Top-12-verpligtinge slegs ’n week gehad. Mamre het wel die toernooi goed begin met ’n 26-19-oorwinning oor Strand.

Die verdedigende kampioen het egter daarna in sy laaste groepwedstryd 10-19 teen Kylemore vasgeval. Strand het die verdedigende kampioen se toernooi versuur met ’n 19-14-oorwinning oor Kylemore en die twee spanne danksy ’n beter punteverskil het deurgedring, wat die verdedigende kampioen uit die wedloop geboender het.

Hamlets en Young Hearts het hul groepwedstryde onoorwonne afgesluit en saam met Atlantis die hoop op sukses op hul skouers gedra. Young Hearts het die moeilike taak gehad om St. George’s te stuit, maar kon nie.

Die kampioen het die span van die grafkelder 19-5 geklop en ook sy plek in die laaste agt verseker. Atlantis, teen die studente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) vir ’n plek in die laaste agt, kon egter nie die studente se vrae beantwoord nie en 0-24 vasgeval. Met slegs Hamlets oor het die span die tuisskare hoop gegee met ’n 12-7-oorwinning oor Elsies. Met Hillcrest wat op die mede-gasheer in die kwarteindstryd wag, kon die tuisspan ook nie die wa deur die drif trek nie.

Hillcrest het die spannende riller 14-12 gewen nadat Hamlets in die laaste minute alles in die stryd gewerp het. Rotsvaste verdediging van die span van Ceres het egter die gasheer verhinder om die uitklop hou te plant. Mamre het in die Bowl-afdeling tot in die eindronde gevorder, waar hy 15-22 teen Hand and Hearts vasgeval het.

Young Hearts en Atlantis se paaie het in die plaat-kwarteindstryd gekruis met Ruben Abels se troepe wat 22-5 baas was.

Die manne van Pella het egter in die plaat-halfeindstryd teen Macassar vasgeval en Kylemore daarna in die eindstryd 26-7 geklop.

St. George’s het Strand se toernooi in die een halfeindstryd beëindig terwyl Hillcrest die slimmes van die UWK uitoorlê het, met St. George’s wat die eindstryd en R30 000-prysgeld met sy oorwinning oor Hillcrest gewen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article