Baie sportklubs verwelkom die opskorting van die inperking op menige sportkode wat deur die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthetwa bekend gemaak is.

Alhoewel die seisoen vir klubrugby en -sokker verby is, meen voorsitters en afrigters dat die Covid-19-pandemie ’n negatiewe uitwerking op sport vir 2020 het en dat dit ontwikkeling verder kan benadeel. Rugby- en sokkerklubs, wat gewoonlik in die voorseisoen gereeld geldinsamelingsprojekte aangebied het, kon die laaste ses maande geen sulke geleenthede van stapel gestuur het nie weens die Covid-19-pandemie. Klubs kon ook geen ander gesellighede gehou het nie aangesien byeenkomste verbode was.

Hamlets, wat vir die eerste keer tot die WP Superliga A bervorder is, sal nou moet wag tot 2021 om teen die beste klubs te speel. “Die positiewe kant is dat spelers meer tyd in gimnasiums kon deurbring en ook meer met hulle families kommunikeer,” het Ernest Abels, voorsitter van Hamlets gesê.

Reuben Abels, hoofafrigter van Young Hearts, meen egter die onverhoedse inmenging van die pandemie het verseker dat hulle meer beplanning tot hul beskikking het en ekstra tyd aan kondisionering van spelers kon bestee.

Calvin Warnick, voorsitter van Atlantis RFC, meen die uitwerking van Covid-19, het sportklubs finansieel benadeel aangesien daar geen inkomste op seisoengeld, hekgeld en registrasies was nie. Volgens hom is die terreine ook beter na gekyk omdat daar geen wedstryde plaasgevind het nie.

Die afrigter en spelers kon konsentreer op spelers se fisieke welstand en beter beplanning vir 2021.

Volgens Rodger August, voorsitter van die Atlantis-krieketklub, gaan daar net ’n enkelronde gespeel word, wat die spelers se spelpeil kan beïnvloed. Die onsekerheid oor wanneer die liga begin, wek ook groot kommer, meen hy.

“Veld- en baanatlete is wel besig met voorbereiding vir die 2020-’21-seisoen, maar ek is baie bekommerd oor die atlete se fisieke welstand, want daar is nie baie tyd beskikbaar nie,” het Mario Philander van Velocity-atletiekklub gesê.

Toegang tot en die verbruik van die Stad se sportgeriewe vir alle sportverenigings is uiteindelik goedgekeur. Die voorwaardes vir bespreking deur middel van die normale besprekingsprosedures en die betaling daarvan voordat toegang tot die fasiliteit verkry, moet steeds gevolg word.

Volgens dr. Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid van gemeenskapsdiens en gesondheid, moet ’n Covid-19-klaringsvorm voltooi word wanneer ’n fasiliteit bespreek word. Badroodien moedig sportliggame aan om die inhoud van vlak 1-regulasies en die aanwysings te raadpleeg en hulle vertroud te maak met die nakoming van alle wetgewende, bedryfs-, gesondheid- en veiligheidsprotokol wat daarin voorgeskryf word.

Die munisipaliteit sal ook nie verant­woordelik wees vir ontsmetting of ander verwante dienste wat voor of ná gebruik by die sportlokaal benodig word nie, dit is die verantwoordelikheid van die verbruiker.

Die munisipaliteit behou ook die reg om toegang en gebruik te beëindig in geval van nienakoming deur enige sportliggaam. Herstelwerk, instandhouding en skoonmaakprojekte by fasiliteite duur ook voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article