Hamlets se o.20-span pronk in hul nuwe uitrusting. Angelo Arendse (voorsitter) sit voor in die middel by verteenwoordigers van die onderskeie borge. Foto’s: David Rossouw


Twee sportklubs in Mamre is onlangs met nuwe uitrustings verras.

Die Hamlets-rugbyklub het vier stelle nuwe rugbytruie van drie borge – die Derek Petersen-familietrust, WM Humphreys Enterprises en PC Validation ontvang.

Die borgskap kom op die regte tydstip aangesien die huidige truie van die vier spanne “hul tyd gehad het”, het die klubvoorsitter, Angelo Arendse, gesê.

Volgens Arendse is hulle baie bevoorreg om hierdie borge, wat terugploeg in gemeenskappe, in hul midde te hê, en daarvoor bedank die klub hulle opreg vir hul goedhartige skenking.

Die Mamre-sokkerklub is verlede Dinsdagaand (23 Julie), verras toe Clayster Konstruksie en die Smile-produksie-orkes gesamentlik splinternuwe geborgde sokkertoerusting aan die klub op die Mamre-sportterrein oorhandig het.

Danksy die borgskap is die klub met drie junior en twee senior sokkeruitrustings, 10 oefenballe en 50 sokkerkegels toegerus.

Volgens Ashwin Clayton en Morne Bester, die eienaars van die Clayster Konstruksie-maatskappy, volg hulle die Mamre-sokkerklub al ’n geruime tyd en het besluit om in die klub te belê en hulle van sokkertoerusting te voorsien.

Clayton het aan Weskus Nuus gesê die borgskap is ’n verhouding wat ’n paar jaar gelede tussen MSK en Clayster Konstruksie ontstaan het en hulle hoop dat dit die verhouding tussen die twee instansies vorentoe net sterker sal maak.

“Mamre SK is opgewonde oor die borgskap en loof Clayster Konstruksie en Smile-produksie-orkes vir die inisiatief. As sokkerklub is dit nie maklik om goeie gehalte sokkertoerusting te bekom nie, veral as jy junior en senior sokkerspanne het, weens die ontsettende hoë koste van sokkertoerusting, vervoer en administrasie. Ons hoop dat dit die begin van ’n nuwe verhouding tussen MSK, Clayton Konstruksie en Smile-produksie-orkes sal wees en dat ons hulle trots sal maak wanneer ons in die uitrustings met hul kentekens daarop uitdraf,” het Jerome Evertson (kassier) van MSK gesê.

“Noudat ons MSK aangeneem het, gaan ons by die klub betrokke raak om ons verhouding verder te verbeter en ons hoop om hulle ’n spogklub onder die sokkerklubs in Atlantis te maak,” het Clayton gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article