Die o.11 spannetjie, wat hulle “PSG” noem, het die trofee in die sokkertoernooi gewen. Foto: Verskaf


Die onsekerheid oor wanneer sport en lewe weer na die gewone sal terugkeer, het drie vroue van Saxonsea laat besluit om kinders met sport en kos uit die strate te hou.

Volgens Jenni-Lee Richards het die idee van ’n speelgoed-biblioteek met die inperking begin.

Danielle Richards en Kaylee Facolyn het hand bygesit, en só het die reis begin om kinders besig te hou omdat hulle nie skool toe kon gaan nie.

“Ons het die program met byna 150 kinders uitgebrei en hulle neem op ’n Saterdag aan verskillende sport­toernooie op die parkie in Saxonsea deel,” vertel Jenni-Lee.

“Sport het begin nadat ons gesien het Nathaniel van Graan doen sokker-oefeninge met kinders, en daarna was daar geen keer aan die projek nie,” vertel sy trots.

Volgens dié drie is hul doel van die projek om ook die jongspan bewus te maak dat misdaad nie ’n oplossing is nie.

“Sport teen misdaad” lok nou weekliks groot belangstelling aangesien kinders uit alle buurte betrokke raak.

Die kinders word ná wedstryde met ’n lekker maaltyd bederf. “Vir baie is dit die enigste maaltyd wat hulle kry.”

Die vroue sê netbal en skoonheidskompetisies is ook deel van hul program en die kinders geniet die aandag.

Die groep, wat alles uit eie sak doen, wil graag belangstellendes vra om iets te borg omdat die behoefte so groot is.

“Baie van die kinders ruil tot hul skoene uit vir ander om aan die sport deel te neem,” vertel Jenni-Lee.

Die groep deel drie dae in die week kos aan die jongspan uit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article