Faldie Dreyer het uiteindelik ná ’n paar terugslae sy groot kans om sy spiere ten toon te stel, benut. Foto: Murphy Roberts


Dit was ’n moeilike paar jaar, vertel die liggaamsboukampioen Faldie Dreyer.

Dié persoonlike instrukteur het Saterdag 8 Mei die David K14 Classic-liggaamsboukompetisie (o.75 kg en o.80 kg) in die Tygervallei-winkelsentrum gewen.

Die 44-jarige Dreyer sê hy het nog nie voorheen mededingend deelgeneem nie omdat iets telkens voorgeval het.

“Ná 20 jaar se liggaamsbou-oefening het ek in 2018 besluit om mededingend te oefen. Ek het kort voor my eerste kompetisie egter ’n beroerte gehad, wat my platgeslaan het. Ek het myself egter opgetel en besluit dit gaan my nie onderkry nie,” vertel hy. “My veggees en vasberadenheid het dit moontlik gemaak dat ek ná twee maande weer kon begin oefen.”

Dreyer sê net toe hy in 2019 dink hy is gereed om weer sy spiere te begin wys, het ’n ou nekbesering hom gekniehalter. “Ek was as jongman versot op sport en was ook ’n kranige rugbyspeler,” sê dié kampioen wat van die Kaapse Vlakte af kom en reeds vierjaar in Atlantis woon.

“Dit was juis die rugbybesering wat my meer op liggaamsbou laat fokus het. Dit kan nogal teleurstellend wees as jy weet jy is goed voorbereid vir ’n kompetisie, maar dan slaan die noodlot toe,” vertel die ywerige sportman. “Ek het myself belowe om nóg harder te werk om my spiere te bou en dat 2020 my groot jaar gaan wees. Met alles gereed het Covid-19 egter getref en vir my besluit ek is nog nie gereed nie, maar selfs dit het my steeds nie ondergekry nie.”

Vanjaar het alles egter volgens plan verloop, vertel die kampioen.

“Noudat ek die gevoel ken, wil ek professioneel begin deelneem om sodoende ook nasionaal te kan meeding,” vertel die spiertier.

Hy berei reeds voor vir sy volgende kompetisie, die Cape Classic, wat op 7 Augustus plaasvind.

Dreyer, wat as plaaslike gimnasium-instrukteur werk, vertel hy is baie passievol om veral jongmanne die fyner kunsies van liggaamsbou te leer.

Sy eie liggaamsbou moet tussen sy werk-ure deur gebeur, en hy het ook ’n verantwoordelik teenoor mense wat hom by die gimnasium as hul persoonlike instrukteur beskou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article