“Ek voel my vriendin en ma van my kind is soos ’n dier geslag en toe soos ’n graad 1-naaldwerkleerder aanmekaar gelap.”
Só sê ’n woedende Shane Bruintjies oor Megan Boesak se keisersnee.
Bruintjies en sy vriendin, Boesak, vertel hulle kon die afgelope vier maande nog nie hul baba by hulle hê nie weens haar beserings.
Boesak verduidelik sy is op die dag van verlede jaar se Rugbywêreldbeker-eindstryd na die New Somerset-hospitaal toe sy kraampyne begin kry het.
“Ek is onmiddellik na die hospitaal geneem waar dokters besluit het om my baba met ’n keisersnee in die wêreld te bring nadat my eerste gebore baba ook so gebore is,” vertel die ma.
“Dit was die begin van my nagmerrie. Ek is dieselfde dag teater toe en my babadogtertjie is gebore. Ek het eers die volgende dag besef iets is verkeerd toe ek begin siek raak en net begin opgooi het. Ek kon nie eens my baba vashou nie.
“Die dokters kon my nie sê wat is verkeerd nie en ek moes ná twee dae weer in teater toe – sonder ’n verduideliking,” beweer sy.
“Ek het ná die tweede operasie wakkergeskrik met sakkies aan my lyf en het ’n verduideliking gevra, maar (my vrae) is geïgnoreer.”
Boesak sê sy is ses weke later ontslaan sonder dat sy haar baba of haarself kon versorg en steeds sonder ’n verduideliking van wat presies met haar gebeur het. “Ek moes op my eie genade by die huis kom.”
Die paartjie sukkel steeds om na hul baba om te sien aangesien Boesak self nog versorg moet word. Hulle sê benewens die uitdagings by die huis is hulle steeds moedeloos omdat niemand kan verduidelik wat tydens die geboorte en daaropvolgende operasie verkeerd gegaan het nie.
Bruintjies vertel dat sy ma, ’n pensioentrekker, intussen na die baba omsien terwyl hy Boesak, wat “niks vir haarself kan doen nie”, versorg.
Intussen het Jeanette van Niekerk (63) , die baba se ouma, aangebied om die kleintjie te versorg.
“Dit is baie veeleisend op my ouderdom, maar dit is wat ’n ouma moet doen,” meen Van Niekerk.
Volgens Boesak het sy net ’n brief gekry dat sy deur tuisversorgers besoek moes word.
Natalie Watlington, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het by navraag gesê Boesak is voor die operasie deur mediese personeel ingelig oor moontlike komplikasies wat as gevolg van die operasie kan voorkom.
Watlington het erken dat daar wel komplikasies met die operasie was, maar dit word “goed gemonitor deur die departement”. Volgens Watlington kan die departement weens die pasiënt-vertroulikheid-klousule nie Boesak se toestand met die media bespreek nie.


