Sebastian Kruger (57), of Sabbie, soos almal hom genoem het, was baie lief vir sy familie en die buitelewe. Foto: Verskaf


Hy het met gewetenlose moordenaars gewerk – sonder ’n vuurwapen met net geloof as sy wapen.

Dit was een van die huldeblyke aan AO Sebastian Kruger (57) ’n afgetrede polisieman van Darling, wat voorheen verbonde was aan die Atlantis-polisiestasie asook die georganiseerde misdaadeenheid in Kaapstad.

Sabbie, soos hy bekend gestaan het, se skielike afsterwe Maandag 12 Julie weens natuurlike oorsake, het die Darling-gemeenskap en veral sy polisievriende in rou gedompel.

Kruger, wat 30 jaar in die diens was, het die polisie in 2017 gegroet omdat hy meer tyd saam met sy familie wou deurbring. Hy was 28 jaar van sy 30 diensjare in Atlantis en het vinnig opgang gemaak toe hy in 2000 by die speurtak aangesluit het. Hy was die ondersoekbeampte in verskeie hoëprofiel- bendeverwante sake en het ook suksesvolle vervolging in al sy bendesake behaal.

Volgens Joseph Phillips, ’n kameraad, vriend en kollega, sal mense nooit besef watter verskil Kruger in Atlantis gemaak het nie. Flippie vertel: “Hy het in 2013 die oë laat rek toe hy die twee moordenaars Alton Adonis en Anthony Moegamat vir ’n dubbele moord agter die Atlantis-hof laat boet. Die twee is 23 jaar tronkstraf opgelê.”

Kruger, wat in daai stadium verantwoordelik vir die ondersoek van bendeverwante sake was, het kort daarna ook die twee jeugdige moordenaars van Gershwin Woodward, glo ’n leier van die 28-bende wat in Neptune Castle afgemaai is, laat boet. Dié twee is in 2014 as minderjariges elk 17 jaar tronkstraf opgelê.

Daar was geen keer aan Kruger nie en hy is ook vereer as die beste speurder in die Milnerton-polisiekluster in 2015, waarna hy weens sy suksesse met bende-verwante misdrywe deur die georganiseerde misdaadeenheid in Kaapstad aangestel is.

Een van Kruger se groot suksesse was ’n strafoplegging van 328 jaar in die Kaapse Hooggeregshof. Die twee beskuldiges is in September 2015 op 16 van die 24 aanklagte waarop hulle verskyn het, skuldig bevind.

“Sebastiaan was ’n fantastiese en voorbeeldige gesinsman en is ook in 2019 tot voorsitter van Darling-rugbyklub verkies, waar hy ’n kranige speler in sy jonger dae was.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article