SASV Kaapstad se tegniese personeel illustreer tegniese wenke aan Atlantis-sokkerafrigters tydens die onlangse werksessie op die Robinvale-sportveldFoto: David Rossouw


Die Suid Afrikaanse Sokkervereniging (SASV) in die Kaapstad-streek het weer eens gewys hoe belangrik goeie administrasie in ’n organisasie is.

Die Kaapstad-streek is een van die toonaangewende streke in die Wes-Kaap wanneer dit by sokkerontwikke­ling kom, en sy onlangse opleidingsessies in verskillende plaaslike sokkerverenigings (PSV’s) is ’n bewys dat sokker in ’n opwaartse kurwe beweeg.

Behalwe dat hulle uitstekende sokkerleiers in die PSV’s het, handhaaf hulle ook hoë standaarde, soos gestel deur SASV en Fifa, om goeie sokkeradministrasie onder die verskillende PSV’s te bevorder.

Die onlangse besoek van SASV Kaapstad se tegniese afdeling vir afrigting aan die Atlantis- plaaslike sokkervereniging (APSV) het weer eens hul vermoë geïllustreer hoe belangrik vaardighede op die gebied van afrigting is. Meer as 30 gesoute en aspirant- senior en junior afrigters is onder leiding van Aslam Petersen (HOD), Boebie Solomons en ander personeel onder hande geneem om hul vaardighede te verskerp.

Claude Brown, die ASV-president, was verheug en opgewonde oor die gebeurtenis en het aan Weskus Nuus gesê dit verbeter nie net sokkerontwikkeling in die streek nie, maar bevestig ook die belangrikheid van opleiding. “Ek is bly vir die geleentheid wat die SASV Kaapstad aan ons jong en toekomstige afrigters gebied het sodat hulle nie net verbeter nie, maar ook ’n belangrike rol in die toekoms van sportontwikkeling in ons streek kan speel,” het Brown gesê.

Sokker is die grootste spansport in die land en so ook in Atlantis, en die hoop bestaan dat die vaardighede wat die afrigters tydens opleidingsklinieke ontvang en leer, hulle verder tot groter hoogtes sal verbeter, het Brown gesê.

Sokker het vir die SASV Kaapstad- streek Saterdag 26 Oktober geëindig met die 29ste weergawe van die opwindende Coca Cola-amateurbeker-eindronde vir seuns onder 18, vroue en senior mans, op die Athlone-stadion.

Die APSV se sokkerkompetisies eindig Saterdag (2 November) op die Robinvale-sportterrein wanneer die uitklopbeker-eindronde vir die verskillende afdelings gespeel word.

Brown het klubs, ondersteuners en borge van die verskillende klubs bedank vir hul ondersteuning gedurende die afgelope sokkerseisoen en wens almal ’n geseënde feestyd vorentoe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article