Die doelwagter van ATL het met goeie keerwerk verseker dat die wenspan nie meer doele in die eindstryd aanteken nie.Foto: Murphy Roberts


Ongeag doelhokke wat skeef staan en gereeld reggetimmer moes word, het ’n groep inwoners van Sherwood Park en Uitbreiding 12 besluit sport kan tot die bekamping van misdaad bydra – en daad by die woord gevoeg.

Sedert die inperking meer as ’n jaar gelede begin het, het die groep besluit om die Atlantis “Crime Prevention”-sokkerliga te stig.

Volgens David Swartz, ’n bestuurslid, het hulle sewe spanne wat in die o.16- en o.11-afdeling speel en die Paas-toernooi het onlangs afgeskop.

Die eindronde is Saterdag (10 April) op die veld in Sherwood Park beslis.

Die spanne van Mighty en ATL het sake uitgespook nadat hulle hul halfeindwedstryde van die strafmerkie af gewen het.

Mighty het teen Dreamteam 0-0 gelykop in die eerste halfeindstryd gespeel, waarna ’n plek vir die eindronde met skoppe beslis moes word.

Mighty het koelkop gebly en met 4-2 doele geseëvier.

In die ander halfeindstryd tussen ATL en Court Chestor kon nie een span ook die agterkant van die nette vind nie, en weer eens moes die strafkol beslis wie Mighty se teenstaanders gaan wees.

ATL, wat gedurende die toernooi goeie sokker opgedis het, het gewys hy beskik oor die regte temperament om in die eindstryd te speel en het die skopstryd 5-4 gewen.

Die eindstryd het vermaak­like sokker opgedis. Stof het dit by tye moeilik gemaak, maar die spanne het toeskouers met opwindende sokker vermaak.

Mighty het sy krag getoon en rustyd reeds ’n hand op die titel gehad toe hulle gaan water drink het met die telling 2-0.

Die span het die titel in die tweede halfte verseker met ’n derde doel en net goeie keerwerk van ATL se doelwagter het verseker die wenspan het nie meer doele aangeteken nie. ATL, wat steeds onoorwonne in die liga is, het ná vier wedstryde 12 punte en lyk na die gunsteling om die ligatrofee te wen, terwyl die Paastoernooi-kampioene Mighty sukkel om sy voete in die liga te vind en het ná vier ligawedstryde net 4 punte. In die o.11-afdeling gee Dream team (10) en ATL (9) die pas aan. Die liga-wedstryde word hierdie naweek hervat.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article