Nie net moes Weskussers en besoekers vanjaar later wag vir die snoek om te loop nie, maar “nuwe” wetgewing is “uit die bloute” op snoekkopers van toepassing gemaak en het mense langs die pad boetes op die hals gehaal omdat hulle snoek sonder ’n kwitansie vervoer het.
Facebook het die afgelope paar dae behoorlik gegons oor ’n voorval waarin mense ’n boete van tot R2 000 gekry het omdat hulle 50 snoeke, wat hulle by die St. Helenabaai-hawe gaan koop het, by hulle gehad het. Die betrokke beamptes het gevra vir ’n permit of ’n kwitansie, wat hulle nie gehad het nie.
Weskussers was ontstoke oor die voorval, wat Weslander genoop het om na die toepaslike wetgewing in die verband te gaan kyk.
Die Wet op Mariene Lewende Hulpbronne (Wet 18 van 1998) is al in 2005 gewysig sodat dit bepaal dat niemand enige vis, of deel van ’n vis, mag verkoop, lewer of bekom nie, tensy die verkoper ’n faktuur of kwitansie spesifiek daarvoor aan die koper uitreik.
Hoewel die Langanas (die tussengangers wat die snoek direk by die snoekbote koop en dan op die kaai aan snoekliefhebbers verkoop) volgens wet enige hoeveelheid snoek by die bote mag koop omdat die skipper en die boot gewoonlik kommersiële visvangregte het, is die Langanas ook wetlik verplig om ’n kwitansie vir hulle aankope te kan wys én ook aan elke klant vir elke transaksie ’n faktuur uit te reik.
Dié faktuur moet die name en fisieke adresse van die koper én die verkoper bevat, asook die datum van die transaksie en die hoeveelheid of massa van elke spesie of deel daarvan wat verkoop word.
Die faktuur moet vir twee jaar bewaar word.
Lesers moet ook daarop let dat die regulasies verder bepaal dat vis of kreef nét by iemand met kommersiële visvangregte soos ’n tradisionele lynvisvangpermit gekoop mag word – nié by iemand met net ’n ontspanningsvisvangpermit nie. Só ’n permit bepaal dat die houer daarvan nié vis wat vir ontspanningdoeleindes gevang is, mag verkoop nie.
As jy by iemand met ’n bestaansvisserpermit snoek koop, moet jy benewens die faktuur ook aandring op ’n afskrif van hul permit om te verseker dat hulle by hul kwota hou.
Boonop moet kopers seker maak dat die snoeke (Tirsiete atun) van die snoet tot by die stert langer as 60 cm is, anders kan dit as “ondermaat” beskou word, wat die koper ook in die sop kan laat beland.
Terugvoer van die departement van landbou, bosbou en visserye oor nog kwelvrae oor snoek as geskenk en die vervoer daarvan, en wat die prosedure dan is om meer as tien snoeke vir huishoudelike gebruik te koop, was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.

