Die 27-jarige veiligheidswag van Atlantis wat aangekla word van twee klagtes van verkraging, een van poging tot verkraging, twee ontvoerings, twee aanklagte van gewapende roof met verswarende omstandighede en twee aanrandingsklagte, is weer in die hof.
Die saak was in April voorlopig deur die landdros van die rol geskrap nadat die tolk nie teenwoordig kon wees nie.
Die twee vermeende slagoffers het destyds behoorlik gal gebraak en gesê hulle moes daagliks in “die verkragter” se gesig vaskyk omdat hulle naby mekaar woon.
Die vermeende verkragter, wat volgens ’n bron positief met die voorvalle verbind word, het in Junie 2018 glo ’n vroulike veiligheidswag, wat nagskof gewerk het, glo geteiken en toe verkrag.
Met die eerste voorval 26 Junie 2018 is die vroulike veiligheidswag, wat patrollie gedoen het, na bewering net ná 02:00 op die fabriek se perseel verkrag.
Dié veiligheidswag sê haar hande en voete is met haar skoenveters vasgebind waarna sy verkrag is. Die verdagte het ’n week later glo op ’n ander perseel weer toegeslaan en dieselfde modus operandi gevolg.
Die twee slagoffers, onderskeidelik toe 28 en 31, sê die verdagte het ’n masker gedra. Die verdagte wat presies ’n week later vir die derde keer sou toeslaan, was egter deur sy slagoffer verras en sy het die verdagte se masker afgepluk waarna hy op die vlug geslaan het.
Die derde slagoffer het glo die verdagte herken as die wag wat veiligheidswerk by ’n nabygeleë fabriek doen. Die saak is Woensdag 11 Desember tot Dinsdag 11 Februarie 2020 uitgestel vir ’n moontlike pleitooreenkoms.




