“Onderwys is my roeping, maar skryf is my passie.”
Só verduidelik Reshanda “Sandy” Adams-Martinus, ’n jong, opkomende vroueskrywer en -digter, met haar eerste digbundelvrystelling, Seisoene, onlangs in Mamre by die Ou Winkel.
Mariette Matleo van Mar-Leo-uitgewers en Jotha-drukkers het seker gemaak Adams-Martinus se gedigte sal vir baie Suid-Afrikaners danksy die jong vrou se eerste digbundel beskikbaar wees.
Die beroemde, skrywer, digter en storieverteller Elias P. Nel het Adams-Martinus as sy oud-leerder onder sy vlerk geneem en praat met net die grootste lof oor haar talente.
“As kind was dit altyd my begeerte om stories deur gedigte te vertel – inspirasie wat eens prentjies was, maar later in woorde omgeskep is en dan oorgeskakel is na sinne. Vandag is dit die storie van my lewe,” vertel sy.
Adams-Martinus, ’n gebore Mamriër, bied Afrikaans Eerste Taal as vak by Mamre Primêr aan. “Dit is die taal waarmee ek grootgeword het en grootgemaak is, en daarom inspireer ek leerders by die skool om trots te wees op Afrikaans.”
Haar skryfstyl is uniek, omdat sy oor die gebeure oral om haar skryf – die seerkry van mense in die dorp, verliese, emosies, verwerping, liefde, geluk en vreugde word alles in haar bundel saamgevat.
Die leuse van “Kennis Oorwin en Carpe Diem” is die dryfveer om haar drome te verwesenlik, erken sy.
“Winternag van Eugene Marais het my van laerskool af geïnspireer, en dis waarom ek gevoel het om ’n digbundel saam te stel,” het dié uitgesproke Afrikaans-onderwyser gesê.
Sy het by die bekendstelling van die bundel gesê sy dra dit op aan haar ouers, Natie en Frieda Adams, haar man, Eben Martinus, haar kinders en die Mamre-gemeenskap, wat haar geïnspireer het.
Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor digters met wie sy saamgewerk het, en veral aan Nel, wat haar as ongeslypte digter en skrywer ontwikkel het.
“Aan my uitgewer en drukkers – julle het nie net my droom bewaarheid nie, maar my opnuut gewys as jy glo, is niks onmoontlik nie,” het Adams-Martinus gesê.





