Vaardigheidsontwikkeling van spesifiek jongmense is ’n sleutelprioriteit vir die ASEZ. Die groen ekonomie is nog ’n baie relatiewe nuwe konsep vir die gemeenskap van Atlantis, Witsand, Mamre en Pella. Dit vereis dus konstante dialoog en ingrypings ten bate van bewusmaking om die voortdurende groei en begrip van die groen ekonomie in die Atlantis-gemeenskap te bevorder en te verseker.
En waar beter om te begin as op skoolvlak?
Daarmee wil die Atlantis- spesiale ekonomiese sone die eerste Atlantis- Change Challenge (ACC) vir primêre skole vanaf graad 6-7, sekondêre skole vanaf graad 9-11 en die West Coast Kollege-studente in Atlantis, Witsand, Pella en Mamre aankondig.
ACC-2022 het ’n wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskundige fokus en sal van 31 Januarie tot 24 Maart 2022 duur.
Deelnemers van tot vier in ’n span word aangemoedig om ’n prototipe/model in te handig wat wys hoe hernubare energie verandering aan hul skole, kollege en gemeenskap kan bring deur elemente van die groen ekonomie in te sluit.
Die groen ekonomie word gedefinieer as ’n ekonomie wat daarop gemik is om omgewingsrisiko te verminder en streef na volhoubare ontwikkeling sonder om die omgewing te benadeel. Leerders kan hierdie geleentheid gebruik om te wys dat groen ekonomie tot die bewaring van die aarde kan bydra.
Nog ’n belangrike element van die groen ekonomie is dat alle mense van verskillende geografiese liggings, inkomstegroepe en vlakke van geleerdheid deel is van die groen ekonomie.
’n Vooruitstrewende volhoubare en inklusiewe samelewing vir almal kan slegs herontwerp word as almal se stemme gehoor en idees gedeel word.
Inskrywings is gratis met wonderlike pryse op die spel vir wenspanne, kollege en skole.
Deelnemers in die eerste ronde word gevra om ’n tekening in te dien, vergesel van ’n verduidelikende video van twee minute, wat deur ’n paneel beoordelaars geëvalueer sal word.
Suksesvolle deelnemers sal by ’n innovasiewerksessie baat en blootgestel word aan konsepte rakende idee-generering, prototipering, ontwerpdenke en wetenskaplike metodologieë om ’n werkende model te ontwerp en te bou.
Die werksessie sal deelnemers help om hul ontwerpe vir die eindronde te bou.
Die ASEZCo sien daarna uit om saam met die plaaslike jeug te werk om hulle met die nodige kennis, insig en gereedskap te ondersteun wat hulle instaat sal stel om die toekoms te bou wat hulle graag wil bereik.. Belangstellendes kan Charlotte Perrang by hello@atlantissez.co.za of 064 656 9210 vir enige verdere inligting kontak.

