Die toneel in Protepark waar Marcelino Adams doodgeskiet was.Foto: Murphy Roberts


Drie mans is die afgelope week in afsonderlike bendeverwante voorvalle doodgeskiet.

Kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig die verdagtes wat by een van die voorvalle betrokke was, is aangekeer.

Marcelino Adams (29) is in die eerste voorval Woensdag 14 September in Gloriosastraat, Proteapark, doodgeskiet terwyl hy buite gestaan het.

Munro sê die oorledene het vroegoggend buite ’n huis gestaan toe onbekende mans op hom begin losbrand het.

Adams het op die toneel aan verskeie skietwonde beswyk.

Volgens Munro is nog geen verdagtes vir dié voorval aangekeer nie.

Shayne Peters (35) is Saterdagaand 17 September in Beaconhill geskiet. Hy het glo sy huis ná die skietery gehaal.

Die oorledene is glo deur sy pa in die badkamer gevind, waarna hy na die hospitaal gejaag is. Hy is na ’n Kaapse hospitaal oorgeplaas, waar hy later aan ’n kopwond beswyk het.

Munro het bevestig drie verdagtes is intussen in verband met dié skietery aangekeer.

Theodore Dudley (28) is in sy huis in Rotterdamstraat geskiet. Volgens die polisiewoordvoerder is hy verskeie kere gewond en hy is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.

Volgens Munro is die drie voorvalle vermoedelik bendeverwant.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article