Die bloed het die afgelope twee weke behoorlik in Atlantis gevloei nadat twee mense doodgeskiet en ander gewond is.
Die 15-jarige Quinton Lee Phillips, ’n graad 9-leerder by Proteus Sekondêr, is Woensdagaand 22 September oorlede nadat hy raakgeskiet is.
Quinton, van Heathfield, is volgens kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, dood nadat hy op die trappe van die woonstel gestaan en onbekende mans uit Dura se rigting op die tiener begin skiet het.
Die seun is in die bors getref.
Volgens Munro is die tiener na die hospitaal gehaas, maar hy is met sy aankoms dood verklaar.
Geen verdagtes is nog aangekeer nie en ’n klag van moord word ondersoek.
Twee onbekende mans het op dieselfde aand op twee mans, wat in Uitbreiding 12 in Atlantis gestap het, losgebrand en een van hulle is ernstig gewond.
Munro verduidelik op hierdie tydstip blyk dit die skieters het in ’n motor van die toneel af gevlug. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Marlin Arendse (40) van Protea Park is Saterdag (25 September) met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar nadat hy in die bors getref is. Volgens Munro is geen verdagtes nog aangekeer nie.




