Nadat inwoners die afgelope paar weke moes koes vir die koue winter en yskoue reën is Atlantis se strate onlangs met bloed bevlek en moes inwoners meer vir koeëls koes.
Verlede naweek (2 Augustus) was soos ’n toneel uit ’n wilde-weste-rolprent met drie mense wat kort ná mekaar in twee afsonderlike voorvalle dood is terwyl verskeie ander gewond is.
Volgens kapt. Lisa Munro is twee broers verlede Saterdag (3 Augustus) in die gang tussen Pennelope- en Paragonstraat in Avondale afgemaai.
Die polisie het 14 koeëldoppies op die toneel opgetel. Die twee broers is op die toneel aan hul skietwonde dood, het Munro bevestig. ’n 18-jarige verdagte het hom aan die polisie oorgegee.
Volgens inwoners van die omgewing (wat nie geïdentifiseer wou word nie) is die skieters bekend aan almal omdat hulle inwoners van die gebied is. Hulle sê “die aanval was deeglik beplan omdat hulle presies geweet het die twee broers het in die gang gestaan”.
“Een het van Paragon se kant af gekom terwyl die ander een van Pennelope se kant af gekom het, en die twee broers het nêrens gehad om te vlug nie,” vertel inwoners. Een inwoner het aan Weskus Nuus vertel dat een van die broers se meisie die aanvaller gesoebat het om op te hou skiet omdat hy reeds dood was en sy haarself oor haar kêrel gegooi het. Volgens Munro het die voorval omstreeks 23:00 plaasgevind en het die polisie bevestig dat dit bendeverwant was.
Die tweede voorval het 15 minute later plaasgevind toe ’n 30-jarige man in ’n oop stuk veld naby Coral Place verskeie kere met ’n skerp voorwerp doodgesteek is. Drie verdagtes – een 18-jarige en twee 19-jariges – is intussen aangekeer.
Volgens Munro is verskeie mense dieselfde naweek in ander skietvoorvalle gewond. Volgens ’n vertroulike bron gaan die oorlog oor gebiedsreg (“turf”) nie gou gestop kan word nie. Die bron is van mening dat die opdraggewers vasgevat moet word.


