Terwyl politici glo Atlantis is nie een van die top-10- geweldgeteisterde gebiede in die provinsie nie, het bloed onlangs weer in die strate van Atlantis met verskeie bendeverwante moorde gevloei.
Drie bendeverwante moorde is in minder as 24 uur in Atlantis aangemeld, waarvan die eerste Maandag 24 Mei. ’n Lyk is ook buite Atlantis gekry.
Kapt. Lisa Munro, ’n woordvoerder van die Atlantis-polisie, is die lyk van ’n man met verskeie skietwonde in die bosse tussen Hoopsingel en Dassenbergrylaan gevind. Volgens omstanders op die toneel is die moord vermoedelik elders gepleeg en die liggaam daar gelaat, maar die polisie kon nie dié bewering bevestig nie.
Dieselfde aand net na 20:00 is ’n 39-jarige man van Neptune Castle in Meerminstraat doodgeskiet. Volgens Munro het die oorledene in die pad gestap toe ’n onbekende verdagte hom geskiet het. Hy het op die toneel aan sy wonde beswyk.
’n Man (27) van Paragonstraat is Dinsdagoggend (25 Mei) net na 06:00 in Palmerlaan afgemaai. Volgens Munro was die oorledene op pad werk toe, toe hy deur verskeie mans gekonfronteer is. Die oorledene het op die toneel aan sy skietwonde beswyk. Die polisie het sewe koeëldoppies op die toneel gevind. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.
Talle navrae is reeds aan die provinsiale regering gerig oor hoekom Atlantis nie by premier Alan Winde se vyf jaar veiligheidsplan baat vind nie.
Winde, die LUR vir gemeenskaps-veiligheid, en plaaslike raadslede het gesê ander gebiede kry eers aandag.
Die drie moorde het egter die tonge behoorlik laat klap. Die polisie se teenbende-eenheid is intussen ontplooi.
Atlantis het ’n bykomende 30 wetstoepassers gekry wat ontplooi is om te help om die bendegeweld en ander ernstige misdade te stuit. Die skote het egter ten spyte van die wetstoepassers-teenwoordigheid steeds geklap.
Vrydagaand 28 Mei het drie onbekende mans by ’n hokkie in Protea Park ingestap en op vier inwoners geskiet. ’n Man (27) is in die voorval dood en die ander drie gewond.
Volgens Munro is al die voorvalle bendeverwant en niemand is nog in hegtenis geneem nie.





