Terwyl verskeie organisasies en gemeenskapsleiers aan ’n plan werk om bendebedrywighede en geweld hok te slaan, gaan die skietery onverpoos voort.
Verskillende organisasies, gemeenskapsleiers, raadslede en wetstoepassers het Woensdag 11 September vergader om die situasie in Atlantis te bespreek.
Volgens Peter Stoffberg, wat die inisiatief begin het, is die plan om die dorp, wat tans deur ’n minderheid gyselaar gehou word, terug te eis.
Die organiseerder sê dit sal nie oornag gebeur nie en besef harde werk lê voor.
Kol. Mario Thyse, die stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie, het aan almal by die vergadering verduidelik dat hulle in beheer van die situasie is, maar klem gelê op inwoners wat die polisie as die vyand sien. Bendeleiers weet presies hoe om in sekere gebiede in die goeie boekies van inwoners te bly, en vir dié rede sal die polisie altyd verkeerd bly, het hy gesê.
Baie inwoners weier om inligting te verskaf en baie weier ook om verklarings af te lê, wat die polisie se werk bemoeilik, het hy verduidelik.
Volgens Thyse het hy reeds meer lede en ander hulpmiddels aangevra omdat die polisie suksesvol is om dwelms en onwettige vuurwapens uit die strate te hou.
Volgens Allister Lightburn, die subraad 1-voorsitter, sal inwoners moet verenig in die stryd teen misdaad en daadwerklike optrede is nodig om die strate terug te eis. Volgens Lightburn sal streng opgetree word teen eienaars wat eenhede by die Stad huur indien dwelms uit die huise verkoop word.
Weskus Nuus wou by die polisie weet hoekom kan speurders, wat die eerste suksesvolle POCA-saak in die land behaal het, nie terugkom om in die stryd teen bende en dwelmbase te help nie. Volgens ’n betroubare bron is daar speurders wat ’n groot verskil kan maak en die bron het verklap dat baie bendeleiers en dwelmbase is bang vir oud-speurders wat hier gewerk het.
Die bron het ook verklap dat die verhouding tussen die polisie en vermeende bendeleiers té “buddy buddy” is, daarom sal die probleem nooit regtig opgelos kan word nie.
Die vergadering wou ook weet hoekom kan nie soos in KwaZulu-Natal opgetree word nie en voel bendes word met handskoentjies gepak.
Die subraad-1 bestuurder Wessie van der Westhuizen het ook gesê die gemeenskap moet deesdae die hand in eie boesem steek. Hy het voorgestel dat ’n komitee uit die volgende vergadering gekies moet word sodat die struktuur kan vorm neem. Skole is belangrik in die voorkoming van misdaad en daar moet gekyk word hoe skole betrokke gemaak kan word, het van der Westhuizen gesê.


