Valencia Sass sê sy is vol hoop dat Atlantis ’n beter plek sal word.Foto:


Atlantis gaan ’n beter plek word en ek sal graag my kinders hiér wil grootmaak.

Só meen die 25-jarige Valencia Sass, ’n skoonheidsterapeut van Proteapark. Sass vertel sy het onder moeilike omstandighede grootgeword aangesien sy in die hoofkwartier van ’n bekende bendegroep moes grootword.

Sass, wat altyd ’n maatskaplike werker wou word omdat sy ’n verskil in haar gemeenskap wou maak, vertel dat haar planne nie uitgewerk het nie omdat sy nie aan die vereistes kon voldoen nie, maar het besluit om ’n skoonheidsterapeut te word en kan ook sodoende in haar gemeenskap terugploeg.

“Dit is elkeen se besluit wat hy of sy van hul lewe wil maak, bende en dwelms was nooit deel van my planne nie. Ek kon sien wat dit aan my skoolmaats gedoen het en ja, ons kon nie vrylik buite rondloop weens bendegeweld in die dorp nie, maar ek het gedoen wat die beste vir my gaan wees om maar inhuisig te bly,” vertel die uitgesproke terapeut.

“My werk het my reeds byna die hele wêreld laat sien en nou is die tyd reg vir my om my gemeenskap te dien – veral dié wat in baie stresvolle omgewings werk.”

Sass het ’n salon by haar ouerhuis in Protea Park ingerig waar kliënte gehalte- en professionele bystand kan kry.

Volgens die polisievrou, Liza Munro, wat deur Sass op Erfenisdag bederf is, het sy nooit geweet die dienste is in Atlantis beskikbaar nie en sal sy beslis ’n gereelde kliënt daar wees.

. Munro is deur Weskus Nuus benoem vir ’n gratis bederfsessie en sê sy voel soos ’n “nuwe mens.”

Sass het as deel van Erfenisdag twee mense uit die gemeenskap bederf.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article