Hoofde van die Atlantis prinsipale vereniging het verlede maand tydens hul jaareind-geselligheid twee hoofde gegroet. Foto: David Rossouw


Die Atlantis- Skole- prinsipale vereniging (ASPV) het sy akademiese jaar op 13 Desember 2023 by die Blowfish-restaurant in Dolphin Beach op ’n positiewe noot afgesluit.

“Ons het in 2023 nuwe uitdagings in die gesig gestaar, maar ons het dit oorkom, en ons hoop om onderwys in Atlantis en ander gemeenskappe te verbeter,” het Vaughan Murray, hoof van die Atlantis- Skole- Prinsipale Vereniging, gesê.

“Ons doel is nie net om onderwys in Atlantis te verbeter nie, maar ons wil ook verbeterings in ons gemeenskappe bereik sodat ons almal saam ’n pad na die toekoms kan stap,” het Vaughan bygevoeg.

Weskus Nuus het tydens die geleentheid met ’n paar skoolhoofde gesels, en die gevoel was eenparig onder die meeste van die hoofde wat die geleentheid bygewoon het, was dat samewerking en kommunikasie gewis ’n groot rol gespeel in die sukses van die jaar.

Herman Herklaas (Parkview), Melany Adonis (Atlantis Sekondêr), Terence Adams (Grosvenor), Levona Jonathan (Vaatjie Mor), Lynette Andrews (Hermes), Gary Markus (Saxonsea) en Carmen Gill (Pella) meen almal die ASPV sal in die toekoms ’n verskil in onderwys in Atlantis maak.

Twee uittredende skoolhoofde, Evan Marthinus van Hermes en Claudine Februarie van die Laerskool Vaatjie Mor, is by die geleentheid gegroet en het erkenning gekry vir hul jare lange bydrae tot die onderwysstelsel.

Marthinus en Februarie het verklaar dat onderwys die afgelope paar jaar beduidende veranderinge en uitdagings in die gesig gestaar het.

“Die kurrikulumhervorming het die fokus van onderwys verskuif, en dit is bemoedigend dat onderwys die primêre doel van alle Suid-Afrikaners bly,” het Februarie gesê.

Beide het hul dankbaarheid uitgespreek en gesê hulle is trots om deel van die vereniging te wees. Die twee het gesê hulle geniet kalmte in hul aftrede aangesien onderwys vir langer as 35 jaar deel van hul alledaagse roetine was. Hulle bieg dit is ’n nuwe aanpassing, omdat hulle gewoond geraak het aan die onderskeie gemeenskappe wat so ’n groot verskil in hul lewe gemaak het.

Murray het die twee oudhoofde, hul voorgangers en ander onderwysers bedank vir hul moeite, harde werk en bydraes tot die onderwysstelsel oor die jare. “Ons kan net verbeter in ons strewe as ons almal as ’n gemeenskap saamwerk om Atlantis suksesvol te maak,” het Murray gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article