Die konstabel wat verlede jaar in Oktober in Witsand op mense by sy vervreemde vrou se huis begin losbrand het, sukkel steeds om borgtog te kry.
Die verdagte (33) wat sy skoonsuster Nokubonga Fuba, toe 29 jaar oud, doodgeskiet en verskeie ander gewond het, het Woensdag 11 Desember weer in die plaaslike hof verskyn.
Die verdagte, wat eers volgende jaar in Januarie sal hoor of hy borgtog kan kry, sal dus sy tweede Kersfees agter tralies deurbring.
Volgens ’n familielid, Simethema Dastile, het die oorledene ’n partytjie vir haar seun se verjaardag gereël toe haar suster Nontsiklelo Nkozo se vervreemde man ook dáár opgedaag het.
Dastile vertel die verdagte het die hek agter hom gesluit, ’n vuurwapen uitgehaal en net op mense, wat buite gesit het, begin skiet. “Almal het in die huis gehardloop, maar hy het die huis skiet-skiet binne gegaan,” het hy vertel.
“Hy wou almal wat daar was uitwis, want hy het op almal geskiet,” meen Dastile.
Fuba het op die toneel aan haar wonde beswyk, die polisiebeampte se vervreemde vrou was in ’n kritieke toestand nadat sy in die kop gewond is. Altesaam ses mense is gewond waaronder ’n agtjarige maatjie van Faba se seun wat die partytjie bygewoon het.





