Hulle hoop geregtigheid sal nou geskied.
Dit was die sentiment van familie en vriende van die vermoorde Dehaino Bester (15) nadat sy vermeende moordenaar aangekeer is nadat sedert Bester se moord op 2 November wyd na die verdagte gesoek is.
Die verdagte, net bekend as “Tand”, is Maandag 3 Februarie in die vroeë oggendure by vermoedelik ’n familielid se woning aangekeer en het die volgende dag vlugtig in die hof verskyn.
Volgens ’n betroubare bron is die verdagte ook in verband met 13 ander ernstige misdade gesoek.
Atlantis is op die noodlottige dag geruk deur die voorval wat nie net nog ’n slagoffer van bendegeweld geëis het nie, maar ook ’n belowe jongman met ’n blink toekoms op die sokkerveld.
Dehaino, ’n leerder aan die Proteus Tegniese Hoërskool, is in Uitbreiding 13 koelbloedig doodgeskiet. Dié jong sokkerspeler het op die dag van sy dood nog Jomo’s Power AFC (JPAFC) se o.15-sokkerspan tot ’n oorwinning van 4-2 in ’n Cape Town City FC DreamClub 100-uitspeelwedstryd in Strandfontein, Mitchells Plein, gelei nadat die wedstryd met 0-0 gelykop geëindig het.
Hy het die wendoel behaal.
Dié talentvolle seun het die aand vir sy ma gevra om sy trui te was omdat hy die volgende dag weer moes gaan sokker speel. Hy sou net vinnig by ’n vriend se 21ste verjaarsdag ’n draai gaan maak en dan weer teruggekeer het huis toe.
Dehaino is op pad na die geselligheid geskiet en het op die toneel aan sy wonde beswyk terwyl die skieter in ’n motor van die toneel af gevlug het. Die bestuurder van die wegkommotor is egter kort ná die voorval aangekeer en was reeds verskeie kere in die hof.
Die skieter het inwoners behoorlik onthuts gehad met foto’s wat hy op sosiale media geplaas het waar hy lekker kuier terwyl die polisie na hom gesoek het.
Hulle verskyn op 27 Februarie saam in die hof .





