“Ek dink persoonlik nie dat ek so goed is soos wat mense sê nie, maar wat belangrik is, is dat ek mense se hart en siel wil aanraak.”
Zola Adams (36) of die “singende ambulansvrou,” is ’n nooddienswerker wat aan die voorste linie staan van die Covid-19-pandemie.
Zola is in Atlantis gebore en getoë en sy vertel sy was ’n rebel as tiener en het die skool verlaat voor sy matriek kon skryf.
“Ek sing reeds vandat ek kan onthou en het meestal in die kerkkoor gesing – sing wou ek sing,” vertel sy. “Wanneer ek sing, kan ek myself wees en dit laat my goed voel.”
Sy was lank ’n enkelouer en het deur moeilike tye gehad. Volgens haar wou sy altyd siek mense help en het vrywillige werk gedoen en ook later haar matrieksertifikaat verwerf.
“Ek moes toe kies tussen onderwys of gesondheidsdienste en laasgenoemde is my roeping.
“Dis nie altyd maklik vir vroue om ’n nooddienswerker te wees nie. Eers kon ek net saam in die ambulans ry, maar ek het vasgebyt en bly glo, want dit is iets wat ek voor lief is,” vertel Adams terwyl haar oë ophelder van opwinding.
Met die inperking het Zola baie meer in haar vrye tyd begin sing. Sy sê sy het ook van haar video’s op sosiale media begin deel.
Om ’n nooddienswerker te wees, moet jy ’n sterk persoonlikheid hê en ook emosioneel sterk wees, veral nou met die Covid-19-pandemie. “Ek ervaar baie trauma in my werk en moes twee jaar gelede op ’n toneel werk waar my eie stiefseun op die toneel gesterf het. Elke ongelukstoneel laat my aan daardie aand dink. Die vrees wat ’n mens ervaar, is onbeskryflik, maar dus my liefde vir my werk en my musiek wat my deurdra,” vertel sy.
Zola sê sy sing orals waar sy gaan, of daar nou pasiënte agter saam in die ambulans ry en of dit net sy en ’n kollega is.
“My boodskap aan al ons vroue is: Dit is nooit laat om jou passie uit te leef nie. Al moet jy dit saamvoeg omdat jy te veel het, doen wat vir jou gelukkig maak,” vertel sy.
Sy moedig ook ander vroue aan om te studeer as hulle kan en noem dit kom nie sonder opofferings nie, maar jy sal aan die einde van die dag beloon word.
“Kompeteer met jouself en nie met ander nie. Wees lief vir jouself en volg jou drome.”


