Die wyksraadslid Allister Lightburn en ouma Katrina May nadat ’n brand, waarin haar driejarige kleinkind doodgebrand het, ook twee wendyhuise verwoes het.Foto: Murphy Roberts


“Ons het seker gemaak alles is af voordat beurtkrag later sou begin, maar dit was nie genoeg nie.”

Só vertel die hartseer ma van die driejarige seuntjie wat onlangs doodgebrand het. Volgens Simone Alexander het sy haar saamleef-man, Angelo May, Vrydagaand gevra om seker te maak alles is afgeskakel, omdat hulle vroeg wou inkruip. Beurtkrag sou inskop terwyl hulle in droomland sou wees.

Met trane wat vrylik vloei verduidelik sy: “Ons het in die vroeë oggendure – net ná 04:00, toe die krag weer aangaan – wakkergeskrik met vlamme oral. Ek en Angelo het probeer om ons drie kinders eers veilig uit te kry, maar Jhon-Lee (3) het onder die bed weggekruip om aan die vlammehel te ontsnap.”

Alexander sê in die soektog na Jhon-Lee het hulle amper van die ander kinders vergeet. Die oudste kind, Caleb (5), kon egter slaag om sy jonger boetie (2) deur die venster te gooi en het toe self deur die venster na veiligheid gespring. “Terwyl die vlamme buite beheer geraak het, het ons geroep, geskree en gesoek, maar moes later die aftog blaas omdat ons self later begin brand het,” vertel sy. “Daar was egter geen geluid van ons kind nie, en wat my verbaas, is dat hy nie eens na my of sy pa geroep het nie.”

Tydens die brand het omstanders moedig probeer help om die vlamme te blus, maar Alexander se wendyhuis sowel as dié soortgelyke huis van hul bure het tot op die grond afgebrand – met alles wat daarin was.

Volgens Alexander het haar kind onder die bed verkool en sy vermoed hy moes reeds dood gewees het voordat die vlamme alles verswelg het.

Die erg getraumatiseerde ma sê sy en haar oudste het brandwonde opgedoen, maar is ná behandeling ontslaan. Haar saamleefmaat is egter steeds in die hospitaal weens erge brandwonde.

Die gesin, wat alles verloor het, gaan intussen by skoonfamilie tuis.

Allister Lightburn, die wyksraadslid, sê dit is baie tragies en hy het die familie bemoedig.

Lightburn het aan Weskus Nuus gesê as die raadslid vir die gebied sal hy die familie bystaan met die begrafnis en vra dat die gemeenskap die familie met skenkings moet ondersteun.

“Die grootste nood nou is klere en beddegoed, en enigeen kan my by 073 723 3193 kontak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article