Terwyl organisasies, gemeenskapsleiers en aktiviste by die polisie pleit om familielede en vriende wat misdadigers wegsteek, aan te kla, het ’n ouerpaar hul seun aan die gereg uitgelewer.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie ’n oproep gekry dat ouers vermoed hul 29-jarige seun steek ’n vuurwapen in hul huis weg.
Munro sê die polisie het daarop reageer en wel ’n onwettige vuurwapen in die huis gekry.
Dieselfde aand het die misdaadvoorkomingseenheid drie jongmanne (15, 16, 17) ook met ’n vuurwapen gekry en aangekeer. Volgens Munro word tieners deur bendeleiers gevra om vuurwapens te versteek.
Die 16-jarige het glo erken dat die wapen deur ’n bendelid aan hom gegee is om te versteek, het Munro bevestig.
Volgens Peter Stoffberg, ’n gemeenskapsaktivis wat hom beywer om misdaad hok te slaan, moet die polisie begin optree teen gesinne en vriende wat misdadigers wegsteek.
Stoffberg het gal gebraak nadat die vermeende skieter van Dehaino Bester, net bekend as “Tand”, by sy familie aangekeer is. Volgens Stoffberg was die polisie en familie van die vermoorde Bester verskeie kere by die betrokke huis en elke keer het familie gesê hulle het hom nog nie weer gesien nie.
Volgens Munro probeer die polisie hard om die vertroue van die gemeenskap te wen en het beklemtoon dit wat die ouers van die 29-jarige man gedoen het, ’n teken is dat die polisie op die regte pad is.
Munro kon egter nie bevestig of daar wel teen die familie van Bester se vermeende skieter opgetree gaan word nie. Volgens Stoffberg moet meer ouers na vore kom om die strate weer “skoon te kry”.




