Dit was onvermydelik.
Só sê omstanders nadat ’n vierjarige seuntjie Donderdag (21 Oktober) op die Mamre/Darlingpad (bomepad) naby Witsand voor ’n motor ingehardloop het.
Die bestuurder van die motor het glo nie vinnig gery nie en selfs probeer uitswaai, het ooggetuies gesê.
Die erg getraumatiseerde bestuurder, ’n onderwyseres, was op pad huis toe toe die ongeluk gebeur het.
Volgens kapt. Lisa Munro het die kind op die toneel aan sy beserings gesterf.
Munro het bevestig dat die kind alleen oor die pad gehardloop het.
Volgens omstanders het die seuntjie weens die impak etlike meter deur die lug getrek.
Dit het op die toneel gegons oor waar die ma van die kleintjie was en iemand het aan Weskus Nuus gesê hulle moes die ma gaan soek om haar die tyding te gee.
’n Klagte van strafbare manslag word ondersoek.





