Shannon Mahoney vertel van hul kinderdae en kon nie genoeg uitdruk hoe gek sy broer oor sy familie en werk was nie. Foto’s: Murphy Roberts


Hy wou nog volgende jaar se Cape Argus-fietstoer voltooi, het Shannon Mahoney, jonger broer van die vermoorde sers. Adian Mahoney, tydens die gedenkdiens van sy broer gesê – “Dit was een van sy wense.”

Shannon, met trane wat vlak in die oë gelê het, het roubeklaers vertel van hul kinderdae en hoe sy broer in die polisie geëindig het.

Die broers, wat uit ’n rugbyliefhebbende familie kom, het vertel hulle twee was die skakelpaar, maar sy broer het ná die eerste wedstryd besluit hy is klaar met rugby.

Hy vertel dapper: “My broer het tydens die wedstryd in ’n losgemaal betrokke geraak en reg onder die spelers beland. Hy het benoud om hulp geskree en gesê hy ‘gaan dood’.”

Dit was die laaste keer dat hy ’n wedstryd gespeel het.

“Hy was ’n beter mens as ek,” het die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, gesê. Allen het tydens die gedenkdiens van sers. Mahoney aan roubeklaers gesê net die feit dat Mahoney op die veld was, maak van hom ’n beter mens as hy.

“Ek was op die reserwebank, maar toe ek die ambulans daar sien en wonder wat dit by die wedstryd maak, was ek ook dadelik klaar,” het hy spottenderwys gesê. Allen het aan die polisie gesê in sy kantoor staan ’n fiets en hy gaan dit aan hulle skenk sodat ’n span volgende jaar die fietstoer moet aanpak ter nagedagtes aan hul vermoorde kollega.

“Ons moet eenvoudig hierdie merkwaardige polisieman se legacy laat voortleef, en daar is geen beter manier om dit te doen nie,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article