Menicia Sass (21) van Saxonsea het byna haar droom – om op die kassie te wees – opgegee voor sy haar deurbraak as Chantel Williams in die Afrikaanse sepie, Arendsvlei, gekry het.
“Ek het ná ses maande se wag besluit dit is seker nie vir my beskore nie. Ek was reg om in ’n winkel te gaan werk,” vertel die aktrise. Maar toe kom daardie belangrike oproep.
Menicia het aan Weskus Nuus vertel dat haar liefde vir die vermaaklikheidswêreld reeds in haar kleuterskooldae begin het toe sy gereeld op die verhoog wou wees om rympies op te sê.
Haar onderrig het by John Strebel-kleuterskool begin waarna sy haar laerskoolloopbaan by Wesfleur Primêr voltooi het. Hierna het sy graad 8 en 9 by Atlantis Sekondêr voltooi en daarna het sy by Blaaubergrand Sekondêr in 2016 gematrikuleer.
Menicia sê ná skool moes sy kies tussen drama of sakestudies. Haar liefde vir drama was altyd groter en sy het besluit om drama by die Northlink se Tygerberg-kampus te gaan studeer.
Sy vertel dat dit ’n veeldoelige kurses met sakestudies en drama was.
In 2018 het sy met nege onderskeidings gegradueer en was ook as die beste student (aktrise) vir 2016 en 2017 aangewys.
Tydens haar studies het sy van tyd tot tyd teaterproduksies gedoen soos Katrientjie en Die Broers vertel sy.
“Die werklikheid dat nóg ’n Atlantis-meisie op die televisie gaan verskyn, het drie maande geneem om in te sink. Ek moet erken ek hou nie daarvan om myself op televisie te sien nie, maar my familie sit pligsgetrou Maandae tot Woensdae om 20:00 (DStv-kanaal 147) voor die kassie vasgepen.
“My droom is om eendag in Binnelanders te speel en ook om ’n ambassadeur te wees vir kinders wat geboelie word sodat ek jong mense kan inspireer,” voeg sy by.
Sy vertel vir haar rol in Arendsvlei moes sy baie navorsing doen oor boeliegedrag omdat dit is waaroor haar karakter handel en aan die begin was dit moeilik om aan te pas.
Menicia sê jong mense moet in hulself glo en weet hulle is belangrik. “As jy passievol is oor iets, gaan vir dit en doen goed. Deel van my sukses is omdat my ma, stiefpa en ouma my altyd ondersteun.”





