“Ek weet waar ek was en ek weet waarheen ek op pad is.”

Dít was die bemoedigende woorde wat die voormalige dwelmverslaafde Micah Isaacs van Mamre Vrydag 15 Oktober op die laaste dag van die Women Lead Movement-program aan die lede.

Isaacs is reeds drie jaar skoon nadat sy vir 11 jaar in die euwel van dwelms vasgevang was. Sy was egter nooit skaam oor haar verlede nie, vertel sy.

Die Women Lead Movement-program het 80 inwoners van Atlantis, Mamre, Pella en Witsand oor 14 dae – van 28 September tot 16 Oktober – meer bewus gemaak oor geslagsgeweld.

“Ek is baie deur my gewese kêrel mishandel toe ek ’n verslaafde was,” vertel Isaacs. “Ek het self besluit genoeg is genoeg toe ek iemand ontmoet wat my respekteer en my probleem verstaan. Hierdie program het my egter laat besef ek wil graag ’n verskil maak en daarom het ek besluit om ook ’n aktivis vir geslagsgeweld te word,” vertel sy opgewonde.

“My selfvertroue het ná die program die hoogte in geskiet en vandag praat ek vrylik as ’n slagoffer oor my verlede,” vertel sy.

Fazlin Moses van Dura het aan die gehoor gesê sy is nie skaam om mense te vertel waar sy woon nie, ten spyte van die negatiewe beeld wat mense soms oor Dura het. “Die opleiding het wonders aan my selfvertroue gedoen aangesien ek ’n baie teruggetrokke mens is en nie maklik met ander meng nie,” het Moses gesê. Sy meen die verskillende lesse wat deelnemers deur die program geleer het, het baie vir haar beteken. “My groeplede het gesien ek meng nie graag nie. Ek gaan nou ander jong mense in veral my gemeenskap aanmoedig om vir hulself op te staan,” het sy vertel.

Volgens Janine Passenz van Survivors Haven Foundation kon die program nie op ’n beter tyd gekom het nie aangesien geslagsgeweld ’n pandemie op sy eie is. Passenz sê sy kan die transformasie by baie jong mense in die twee weke lange program sien en baie wil ambassadeurs word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article