Wat is selfsorg en waarom vorm dit so belangrike deel van die herstelproses van verslawing?

Selfsorg kan beskryf word as enige doelbewuste aksies wat geneem word om jou eie gesondheid of welstand te bewaar en te verbeter. Selfsorg is dus die stel van gesonde grense en die bestuur van emosies. Selfsorg is ’n belangrike deel daarvan om ’n gesonde gebalanseerde en gelukkige lewe te lei.

Waarom is selfversorging belangrik vir my herstelproses?

Om weg te bly van dwelms en alkohol is die eerste stap om te begin om selfsorg toe te pas. Terwyl jy in die gebruik vasgevang is, kan jy nie goeie selfsorg toepas nie. Verslawing veroorsaak dat jy nie na jou gesondheid en welstand kan omsien nie, omdat jou aandag en prioriteit op gebruik gefokus is.

Om na jou gesondheid om te sien en selfsorg toe te pas, help ook om ’n terugval te voorkom. Een van die primêre doelwitte van die herstelproses is om jou vir die langtermyn of selfs lewenslank van dwelm- en alkohol gebruik te onthou.

Hoe pas ’n mens goeie selfsorg toe?

Daar is verskeie gebiede waarin jy selfsorg kan toepas. Dit sluit fisieke, emosionele en geestelike selfsorg in. Wat fisieke selfsorg betref, is dit belangrik dat jy met jou geneesheer gesels wanneer jy die herstelproses betree. Dit kan ook tot jou voordeel wees om te begin oefen, op gesonde eetgewoontes te fokus, genoeg te slaap en goeie persoonlike higiëne toe te pas.

Op die gebied van emosionele selfsorg is dit noodsaaklik om jou emosies op ’n gesonde wyse te bestuur. Wanneer jy middels gebruik, is ’n mens geneig om emosies te ignoreer of te probeer vergeet. Tydens die herstelproses is die fokus daarop om te leer om oor jou emosies te praat en op ’n positiewe wyse uiting aan gevoelens te gee.

Geestelike selfsorg behels om weer in kontak te kom met jouself, jou Hoër Mag, jou sin van waarde en om aanspreeklik te wees. Tydens aktiewe gebruik is mense geneig om hul waardes prys te gee, omdat die gebruik hul prioriteit raak. Tydens die herstelproses word dit vereis dat jy weer fokus op wat jou waardes is.

Dit neem tyd en oefening om self-sorg gereeld te begin toepas

Ná maande of jare sal dit ’n rukkie neem om te leer hoe om na jouself om te sien. Dit het tyd geneem om siek te word en agteruit te gaan. Dit neem tyd om gesond te word. Dit neem tyd om nuwe gesonde gewoontes te bou, maar wees geduldig, want dit is gewis die moeite werd!. Indien jy ondersteuning benodig, kontak gerus ’n terapeut by die Cape Town Drug Counselling Centre by 021 571 7180 of per WhatsApp by 063 247 2918.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article