“Julle het ook regte; julle kan ook klagtes teen kliënte wat julle mishandel, aanmeld,” het Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation onlangs aan sekswerkers van die Wolverivier-omgewing tydens die veldtog vir 16 dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders gesê.
Passenz het Maandag 6 Desember op uitnodiging van die Afrikaanse Christelike Vroue Vereniging (ACVV) die groep vroue meer inligting oor HIV en Vigs gegee. “Dit is belangrik vir julle om te weet dat julle menseregte het. Mans kan nie net maak en doen met julle wat hulle dink is reg nie,” het sy aan die vroue verduidelik. Passenz het stappe aan die sekswerkers verduidelik wat hulle moet volg as hulle mishandel word.
“Die polisie kan nie teen julle diskrimineer omdat julle sekswerkers is nie,” het sy onder luide applous gesê. “Julle werk in ’n baie gevaarlike omgewing waar mishandeling voorkom en die kanse dat julle ernstige beserings kan opdoen, moet nooit uitgesluit word nie.”
Passenz het die groep verseker daar is mense wat hul professie respekteer en daar is ook baie wat dit wil uitbuit. “Julle moet daagliks jul lewe in gevaar stel om iets op die tafel te sit, en daarvoor bewonder ek julle. Onthou – daar is hulp indien julle hulp nodig het.”
Passenz het die vroue verseker sy sal terugkom en het gevra hulle moet haar enige tyd die dag of nag kontak as hulle probleme ondervind.
Sekswerkers het aan Weskus Nuus gesê hulle is bly oor die inligting.
“Ons word so baie deur kliënte mishandel en bly eerder stil omdat die polisie nie baie behulpsaam is nie omdat ons sekswerkers is,” het een vertel. “Ons weet nou ons het ’n stem – ’n stem wat baie hard kan praat.”





