Die selferkende sekswerker Evalina Fortuin (37) gaan lank agter tralies wees nadat sy op vier klagtes skuldig bevind is.
Fortuin is Dinsdag 15 September op klagtes van ontvoering, mensehandel, seksuele blootstelling aan ’n kind en die dwing van ’n minderjarige om seksuele dade te aanskou tot 27 jaar tronk toe gestuur.
Die 11-jarige slagoffer van Wolwerivier buite Atlantis se nagmerrie het op 26 Mei 2019 begin toe Fortuin haar in ’n motor gedwing het. Volgens Fortuin, wat alles in die hof erken het, het haar klant op die dag gevra of sy dalk ’n minderjarige aan hom kan voorsien teen betaling om mee seksdade te pleeg.
Volgens Fortuin se getuienis het sy en die klant gery totdat sy ’n minderjarige meisie gesien het wat bekend was aan haar.
“Ek het die kind na die motor geroep, maar sy het geweier. Ek het haar gegryp en in die motor gedwing,” het Fortuin aan landdros Da Rocha-Boltney in die streekhof erken.
Fortuin het na ’n pleitooreenkoms met die staat haar afskuwelike dade erken. Van die skokkende onthullings wat Fortuin gemaak het, was dat sy en die manspersoon na die bosse gery het waar sy die minderjarige gedwing het om haar kaal uit te trek.
“Die minderjarige slagoffer het geweier, maar ek het met geweld haar klere van haar lyf geskeur. Ek het toegelaat dat die man die kind se privaat dele betas en hy wou orale seks met haar hê, maar die dapper klein slagoffer het haar teengesit.”
Sy het aan die hof verduidelik hoe die kind moes aanskou hoe sy en haar kliënt seks het terwyl die deure van die motor gesluit was.
Die hof het ook bevind dat Fortuin se naam op die nasionale register vir seksuele oortreders geplaas moet word en dat sy ingevolge Artikels 120 en 122 van die Kinderwet 38 van 2005, ook ongeskik is om met kinders te werk.
Fortuin het aan die hof gesê sy het R100 vir haar optrede ontvang waarvan sy R20 aan die slagoffer gegee het vir haar stilswye. Landdros Da Rocha-Boltney het die verdagte op twee aanklagte elk tot 25 jaar gevonnis en op die ander twee tot twee jaar elk, wat samelopend sal wees, gevonnis.





