Alle paaie het Saterdag (14 Oktober) na die Proteapark-sportveld gelei waar Pella Primêr, Hermeslaan Primêr, Saxonsea Primêr en Kerria Primêr aan ’n skolerugbytoernooi deelgeneem het.
Die o.11- en o.13-afdelings is deur die skool van die afrigter Gary Markus gewen toe Saxonsea Primêr eers die o.11-afdeling 20-12 teen Kerria Primêr gewen het. Die o.13-eindstryd tussen Saxonsea en Hermes is met 34-10 deur Saxonsea gewen.
Hierdie inisiatief is gedryf deur die Atlantis- primêre skole se rugbykomitee, wat ook goed ondersteun is deur die subraad 1-voorsitter Allister Lightburn, met die wyksraadslid Moosa Raise en die Stad Kaapstad se departement vir sport en ontspanning onder die leiding van Lauren Schreuder en haar span.
Goeie rugby is deur die jong seuns opgedis en die dag is ook bygewoon deur plaaslike rugbyhelde soos Duncan Matthews, ’n oudleerder van Reygersdal Primêr, wat vir die Leeus en die Bulle gespeel het, en deesdae vir die Seattle Seawolfes in die VSA speel.
Shah-Jehaan de Jongh, wat tans by die Leeus is, en Shaywan Blankenberg (WP-Cravenweek-speler) was ook daar en het die medaljes en bekers oorhandig.
Volgens al twee raadslede is dit gewis ’n kompetisie wat hulle jaarliks gaan ondersteun en hulle het die ouers bedank vir hul volgehoue ondersteuning deur die dag se verrigtinge.
Plaaslike sakeondernemings soos OK Foods Avondale en OK Mamre en Eight Ball Pub asook die twee plaaslike rugbyklubs, Young Hearts van Pella en die Atlantis-rugbyklub, het ook die hand diep in die sak gesteek.





