Dit was ’n dag vol rugby-aksie met die eindstryd van die Atlantis- primêre skole-rugbytoernooi.
Ouers en leerders het verlede Saterdag (3 September) by die Saxonsea-sportterrein byeengekom vir die kragmetings tussen die o.11- en o.13-spanne.
Rugbyspelers van Hermes, Kerria, Pella en Saxonsea- primêre skole, wat vir die halfeindstryde gekwalifiseer het, het nie die skare teleurgestel nie. Die spanne het uit die staanspoor goeie rugby gespeel en gewys waarom hulle gekwalifiseer het.
Kerria en Saxonsea het die eerste o.11-halfeindstryd afgeskop terwyl Hermes en Pella mekaar in die ander halfeindstryd gepak het. In die o.13-afdeling het Kerria en Saxonsea kragte gemeet terwyl Pella en Hermes mekaar die stryd aangesê het.
Saxonsea en Hermes het in hul halfeindstryd-wedstryde koning gekraai en tot die eindstryd deurgedring. Hier moes die twee spanne onderskeidelik Kerria en Pella verslaan.
In die o.11-eindstryd het Hermes eerste bloed geruik en langs die pale gaan druk, oorgeskop en 7-0 voorgeloop. Saxonsea het dadelik teruggeslaan en twee drieë gedruk, waarvan een deur Jonathan Goliath verdoel is, wat die telling 12-7 tot rustyd gemaak het.
In die tweede helfte het Saxonsea nog twee drieë gedruk en seker gemaak dat hy met 22-7 as die wenner uittree en as die 2022-kampioen gekroon word.
Hermes het soos hul o.11-voorgangers eerste punte behaal toe Chadd Williams deurgesny en onder die pale gaan druk het vir sewe punte. Saxonsea het teruggeslaan ná ’n paar goeie bewegings tussen sy voor- en agterspelers toe Leando Joubert Saxonsea se eerste drie gedruk en die telling gelykop gemaak (7-7).
Jayden Hendriks het ná ’n mooi agterlynbeweging Saxonsea se tweede drie gedruk toe hy in die linkerkantse hoekie oorgeval het. Hierna het Saxonsea die krane oopgedraai en nog vyf drieë ingeryg (Jevanty Vlotman, Tristen Busch, Cleo van Zyl en Denielson Adda).
Hermes het Saxonsea soms benoude oomblikke gegee wanneer hy tot die aanval oorgegaan het, maar te veel oordeelsfoute is begaan en verkeerde opsies het hom die wedstryd gekos.
Saxonsea se kommerkoel benadering en minder foute het die knoop deurgehaak vir ’n oortuigende oorwinning van 34-7 om as die o.13-rugbykampioen van die Atlantis- primêre skole gekroon te word.





