Inwoners van Atlantis luister na amptenare van Sassa oor hoekom hulle nie gehelp kan word nie. Foto’s: Murphy Roberts


Terwyl Eskom inwoners weens beurtkrag reeds op hul knieë het, het die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) inwoners ook nou verder platgetrap omdat die agentskap glo nie sy “skuld kan betaal nie”.

Atlantis-inwoners moes verlede week eers voor dooiemansdeur omdraai omdat Sassa nie sy dienste betaal het nie en die Stad Kaapstad sy watertoevoer afgesny het. Die probleem is wel opgelos, maar inwoners was behoorlik die josie in omdat hulle glo Sassa het ’n traak-my-nie-agtige houding.

Net die waterprobleem was egter opgelos toe inwoners ’n paar dae later weer voor geslote deure moes omdraai omdat veiligheidswagte oor onbetaalde lone staak.

Wagte by die plaaslike kantoor het aan Weskus Nuus gesê hulle het die afgelope twee maande nog nie hul salarisse ontvang nie.

“Ons weet nie waar die probleem lê nie, maar ons kan nie langer verniet werk nie,” het een van die wagte gesê.

Sassa-amptenare het op hul beurt gesê hulle kan ongelukkig nie sonder veiligheidswagte werk nie en gemoedere het behoorlik opgevlam.

Volgens die begunstigde Julie Lubbe-Rossouw staan hulle reeds van vroegoggend by Sassa.

“Ons moet ons lewe in gevaar stel net om hier te hoor die kantoor gaan nie oopmaak nie. Elke keer is dit dieselfde storie – as Sassa nie sy rekenings betaal nie, moet ons daaronder ly,” verduidelik sy.

Zurina Stemmet sê sy wag reeds van 04:00. “As die krag nie af is nie, dan is dit ander stories, en ons het die geldjie bitter nodig. Ek glo Sassa kan ander planne maak, maar hulle voel vere vir ons mense,” het Stemmet gal gebraak.

Volgens Nickey Rheede, voorsitter van subraad 1, is dit baie frustrerend vir die Stad omdat inwoners na die plaaslike raadslede kyk vir hulp.

“Ons moet ongelukkig Sassa soos enige ander kliënt hanteer. Dit is ons plig om inwoners te help waar ons kan, maar Sassa moet ook onder dieselfde kam geskeer word en geen uitsonderings word gemaak nie,” verduidelik Rheede.

Volgens Shivani Wahab van Sassa is die kwessie met die verskaffer van sy veiligheidsdienste bespreek en Sassa oorweeg nou ’n tydelike (ander) diensverskaffer.

“Dit is belangrik dat kliënte veilig moet voel en personeel se veiligheid moet ook gewaarborg word,” sê Wahab.

“Dienste word tans oor die hele provinsie geraak,” het sy erken.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article