Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) het sy kantoor in Atlantis weens gesondheid- en veiligheidsredes gesluit, en dié besluit het inwoners erg onthuts gelaat.
Tydens Weskus Nuus se besoek aan die kantoor het amptenare aan inwoners verduidelik dat dit onveilig is om die kantore te gebruik en dat ’n gemeenskapsaal wel bewillig is.
Inwoners is gevra om daarheen te gaan.
Dit sou egter later bekend word dat ’n saal wel deur die Stad Kaapstad vir Sassa beskikbaar gestel is, maar Sassa het nooit bevestig dat hy die aanbod aanvaar nie, het die subraad 1-voorsitter, Allister Lightburn, verduidelik. Volgens Lightburn sou subraad 1 die Saxon Sea-gemeenskapsaal vir ’n volle week gratis aan Sassa oopstel. Lightburn sê egter aangesien Sassa eers ’n week later reageer het, het die aanbod ongelukkig verstryk omdat ander programme daagliks by die saal aangebied word.
Sassa se kantoor hier was ook al voorheen gesluit oor klagtes van wanbetaling.
Donea September, ’n gemeenskapswerker, sê die gemeenskap sal moet opstaan teen Sassa omdat so baie inwoners afhanklik is van dié agentskap se uitbetalings. September het ook gal gebraak omdat ’n ander plek nie onmiddellik beskikbaar is nie, en “dit wys weer eens wat hulle van ons dink”.
Lightburn het ook uitgevaar teenoor kritiek dat die Stad Kaapstad verantwoordelik is vir Sassa se dilemma. “Elke huurder is self verantwoordelik vir interne instandhouding en kan nie verwag die Stad moet hul toilette skoon hou nie,” sê hy.
Shivani Wahab, ’n woordvoerder vir Sassa, het bevestig dat die kantoor gesluit is omdat dit nie aan veiligheid- en gesondheidsreëls voldoen nie.
Wahab sê ook Sassa kyk na ’n ander plek om inwoners van diens te wees, maar het hulle aangemoedig om intussen Sassa se aanlyn-aansoekproses te gebruik. Teen druktyd is geen alternatiewe plek al aangewys nie en Lightburn het ook aangedui dat hulle alles in hul vermoë doen om Sassa by te staan.




