Amptenare van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) moes Donderdagoggend (20 Februarie) by die Saxon Sea-gemeenskapsaal rondspring toe ongeveer 300 kliënte vir dienste opgedaag het.
Inwoners het aan amptenare verduidelik dat hulle deur Sassa-werkers aangesê is om daarheen te gaan en dat hulle daar gehelp sal word.
Amptenare van Sassa wat vir die diensleweringsdag van die Stad Kaapstad by die saal was, moes egter die slegte nuus aan ontstelde kliënte oordra dat die verkeerde inligting aan hulle gegee is. Die amptenare kon nie verduidelik hoekom inwoners “gestuur is” om gehelp te word nie.
Inwoners het aan WeskusNuus vertel dat verskeie stories soos ’n veldbrand versprei het en gerugte dat inwoners selfs ’n kospakkie by die saal sou ontvang, is ook genoem. Een inwoner het aan die koerant genoem dat die amptenare net lui is en daarom inwoners na die saal verwys het.
Amptenare by die saal het egter volgehou dat hulle nie weet van waar die gerugte af kom nie, maar het inwoners verseker dat dit gewis nie van die plaaslike kantoor gekom het nie.
Inwoners wat egter meer inligting wou hê oor die oorskakeling na die nuwe swart Postbank-kaart, is egter gevra om te bly aangesien die amptenare reeds daar was om inwoners daarmee by te staan. Kliënte wat nuwe en ander Sassa-verwante aansoeke wou doen, moes dit egter by die kantoor doen omdat die stelsel daar is, is aan inwoners verduidelik.
Volgens Dean Goliath van die National Coloured Congress (NCC) moet dit ondersoek word hoekom inwoners na die saal verwys is. Inwoners is afhanklik van die dienste en is kwesbaar, het Goliath uitgevaar. Die meeste van die mense het maar geduldig na die Sassa-kantoor teruggekeer omdat hulle die dienste broodnodig het, het hy verduidelik.
Goliath het leiers gevra om nie politieke punte uit die inwoners se situasie te probeer verseker nie en hulle moet eerder aan die mense se omstandige begin dink.
Volgens Shivani Wahab, ’n woordvoerder van Sassa, is dit onduidelik hoekom inwoners na die saal gegaan het vir dienste. Wahab het ook bevestig dat Sassa nie kliënte na die saal gestuur het vir hulp nie en weet nie van kospakkies nie. . Lees ook die berig op bl. 5




