Die Sassa-kantoor in Atlantis, wat vir byna twee weke sonder elektrisiteit was, het inwoners behoorlik laat gal braak omdat baie begunstigdes nie hul aansoeke kon afhandel nie.
Verskeie inwoners het Weskus Nuus gebel en hul frustrasies gedeel.
Volgens Martha Roman (73) het sy reeds drie beroertes gehad en moes sy die afgelope paar dae gereeld verniet na die kantoor loop om haar aansoek vir ’n toelaag af te handel net om te hoor die krag is af.
“Dit is mos nie ons skuld as Sassa nie sy rekeninge betaal nie, maar nou moet ons sukkel,” vertel sy. Volgens Angeline Scheepers (60) van Avondale wou sy haar aansoek vir staatspensioen afhandel, maar het reeds ’n paar keer omgedraai omdat die krag af is en “niemand rep ’n woord aan ons oumensies nie”.
Scheepers sê amptenare by die kantoor het eenvoudig gesê die krag is af en hulle moet maar weer terugkom.
Sy vertel: “Toe ons wou weet wat die rede is, is die polisie gebel en amptenare het gesê ons is oproerig.” Scheepers vertel woedend dat niemand oproerig was nie en sy het aan die polisie verduidelik dat amptenare net moet verduidelik hoekom die krag af is.
Weskus Nuus het al oor verskeie soortgelyke voorvalle berig waar die begunstigdes weens ’n agterstallige elektrisiteitsrekening weggewys is.
Shivani Wahab, woordvoerder van Sassa, verduidelik die kragtoevoer is op 23 Julie afgesny omdat Sassa volgens die Stad Kaapstad nie sy rekening betaal het nie. Wahab sê egter die rekening is betaal en die bewys van betaling is aan die Stad gestuur.
Ian Neilson, die burgemeesterskomiteelid vir finansies, het bevestig Sassa het nie sy agterstallige rekening van R13 460, 91 betaal nie daarom is die toevoer afgesny.
Volgens Neilson is die rekening ’n week ná die afsny eers betaal en die kragtoevoer is Dinsdag 3 Augustus weer aangeskakel.





