Saldanha het Saterdag die eindstryd van Boland se Grootuitdaagbeker-kompetisie gehaal nadat dié span Roses United van Wellington met 26-16 geklop het.
Saldanha, wat die seisoen onoorwonne in die Weskus-streek van die kompetisie was, is nou die gunsteling om die Boland-kampioenkroon by ’n suksesvolle jaar te voeg.
Met senuwees wat in die eerste helfte erg geknaag het, het die span baie foute op die aanval gemaak.
Saldanha, met skitterende verdediging, het egter vasgebyt en ware karakter en veggees getoon. Saldanha, wat rustyd met 10-13 agter was, het egter ná rustyd sake gelykop gemaak met ’n strafskop.
Die span het koelkop gebly en nooit Roses toegelaat om die wedstryd te oorheers nie. Die span van Saldanha het die voormalige kampioen se aanslae met aggressie afgeweer en slegs die span se goeie verdediging het Roses verhoed om meer punte aan te teken.
Roses kon slegs ’n strafskop in die tweede helfte behaal terwyl die Weskus-kampioen gedrop, gescore en geplace het.
Saldanha speel Saterdag teen Caledon in die eindstryd.
Caledon het die Swartland-kampioen, Darling, met 42-33 geklop.


