Young Hearts het Saterdag in Saldanha teen die voormalige Boland-kampioen met 5-63 vasgeval in die span se voorlaaste wedstryd van die seisoen.
Die troepe van die Grafkelder kon egter nie ’n begeesterde tuisspan keer nie en die tuisspan het die versneller diep ingetrap. Saldanha het met die oorwinning ook verseker dat hy na die top-twee-uitspeelronde gaan.
Met Vredenburg se Burg Boys wat St. Helenabaai geklop het, is dié twee spanne gelyk op die punteleer met Saldanha wat ’n beter punteverskil het.
Vredenburg het egter een wedstryd oor en reis Saterdag na die Grafkelder. St. Helenabaai, wat die wedstryd teen Vredenburg moes wen om sy kans lewendig te hou, kon egter nie genoeg doen nie. Vredenburg en Saldanha sal dus die Weskus-streek in die top-12-uitspeelronde verteenwoordig met die streekkampioen wat ná Saterdag gekroon sal word.
St. Helenabaai sal Saterdag die groen truie van Kenny Stadler in Mamre pak in dié twee spanne se laaste wedstryd van die seisoen. Mamre sal graag sy laaste wedstryd in die Weskus-streek op ’n hoë noot wil afsluit aangesien die span volgende seisoen in die Swartland-streek speel.
Mamre kan met ’n oorwinning oor die span van die Agterbaai ook twee plekke opskuif indien die troepe van die Grafkelder vasval.
Mamre sal dan in die sesde plek klaarmaak. Young Hearts, wat tans die sesde plek beklee, sal egter wil verseker hy eindig die seisoen op ’n hoë noot indien hy vasval en in die sewende plek eindig. Paternoster het ook Saterdag sy seisoen op ’n hoogtepunt afgesluit toe hy Velddrif geklop en vierde op die punteleer geëindig het, met Hopefield vyfde.
Steenberg’s Cove en Langebaan sal sake uitspook om te bepaal wie eindig voorlaaste, met Piketberg wat laaste op die punteleer is. Abbotsdale se Lillies is die Swartland-kampioen en vat Darling se melkboere saam na die uitspeelronde. . Weskus
Hopefield 42-15 Piketberg
Vredenburg 24-12 St. Helena
Saldanha 63-5 Young Hearts
Velddrif 14-22 Paternoster . Swartland
Abbotsdale 53-19 Moorreesburg
Riebeeck United 37-29 Goodhopes
Darling 48-29 Porterville
Wesbank 38-15 Villagers Wittewater


