Die omstrede sakeman Nafiz Modack en vyf van sy trawante het Woensdag vlugtig in die Atlantis-hof op aanklag van moord verskyn.
Modack, Moegamat Toufiek “Bubbles” Brown, Moegamat Ziyaad Poole, Mario Petersen, Riaad Gasant en Fagmeed Kelly word aangekla van die moord op Nicholaas Heerschap (74) van Melkbosstrand in 2019.
Heerschap is die pa van ’n voormalige lid van die Valke, AO Nico Heerschap, wat Modack ten tye van die voorval ondersoek het. Die aanval destyds was vermoedelik vir die polisieman bedoel.
Hy het intussen die diens van die Valke kort ná sy pa se moord verlaat.
Die onthullings volg nadat een van die verdagtes, Abongile Nqodi, ’n bom in ’n pleitooreenkoms met die staat gelos het. Nqodi is in April vanjaar ná die ooreenkoms 55 jaar tronk toegestuur nadat hy breedvoerig vertel het wat presies gebeur het.
Volgens sy getuienis het hy die moord in opdrag van Modack en Bubbles uitgevoer en beweer dat Modack die finansierder van die moord was. Hy het aan die hof vertel hulle het R25 000 vir die moord ontvang, wat tussen vyf verdeel moes word.
Nqodi het ook in die hof erken dat hy en drie ander op die dag van 9 Julie 2019 na Melkbosstrand is om die speurder te vermoor.
Hy het getuig: “Met ons aankoms by die adres het hulle ’n blanke man in ’n bakkie gesien besig om die bakkie in die oprit uit te trek.” Hy het verder vertel hoe hy en Gesant nader gestap en die bestuurder twee keer in die kop geskiet het.
Nqodi het ook erken hy is later in Kuilsrivier deur Modack en Bubbles gelukgewens op die suksesvolle uitvoering van die taak.
Die saak teen die groep is tot 30 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.
Modack is ook aangekeer vir die moord op kol. Charl Kinnear van die teenbende-eenheid en word ook verdink van die aanslag op William Booth en vele ander sake.





