Die stof rondom die raadslid Nora Grose wil steeds nie gaan lê nie.
Die drama het ontvou toe opposisiepartye begin vrae vra het oor hoeveel die Stad Kaapstad reeds tot dusver aan regskostes betaal het. Grose, wat haar verlede jaar aan die Valke oorgegee het, staan in die Bellville-handelshof tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery.
Volgens Brett Herron van GOOD het die Stad reeds byna ’n halfmiljoen rand aan Hanekom Prokureurs vir die saak betaal. Felicity Purchase, die speaker, het egter wye draaie om die vraag of die bedrag korrek is, geloop.
Volgens Purchase kon die Valke ná byna 15 maande steeds nie bewys dat Grose verkeerdelik opgetree het nie, en daarom sloer die saak steeds en regskostes hoop op.
Purchase sê Grose se regsverteenwoordiger het die hof verskeie kere versoek dat die saak teen haar uitgegooi moet word.
Volgens Weskus Nuus se bron gaan die saak teen Grose nie verdwyn nie. Die bron verklap die staat is verseker van sy saak en hoop om die verhoor binnekort te begin.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, is die saak teen Grose tot 16 September uitgestel sodat die verdediging verdere inligting wat aan hulle deurgegee is, kon hersien.
Ntabazalila het bevestig geen aansoek is deur die hof ontvang dat die saak teen Grose geskrap moet word nie.
Grose en Ruben Swarts, die voorsitter van Sarco, is elk op borgtog van R10 000 vrygelaat. Swarts word ook van bedrog aangekla nadat sy organisasie glo “spookwerkers” geregistreer en TRES-geld geëis het, maar die geld is glo vir persoonlike doeleindes aangewend.
Die bewering is Sarco is destyds deur Grose verkry om geld wat vir noodverligting in die Covid-pandemie bedoel was, te bekom. Altesaam R171 778 is glo later op aandrang van Grose aan Life Changers-kerk in Tableview betaal.
Die kerk het intussen die geld aan die Stad terugbetaal.





