Jason de Lilly en Biehardieen Johannes hoop hul musiek sal slagoffers van geweld en mishandeling inspireer.Foto: David Rossouw


Benewens Mamre se ryk erfenis, basuinkore en sport, het twee jong rymkletsers nog ’n regmerkie by die musiek geskiedenis van die dorp, gevoeg.

Jason de Lilly en Biehardieen Johannes, wat al langer as 12 jaar bevriend is, het onlangs hul eerste album bekendgestel.

Dié twee werk reeds ’n geruime tyd aan dié enkel-album en met die ondersteuning van Smile Produksies, ’n plaaslike platemaatskappy, is hul droom bewaarheid.

“Die enkelsnit getiteld ‘Oulike Mense’ het ons laat besluit om dit op te dra aan vroue wat die slagoffer is van geslagsgeweld en mishandeling,” vertel die twee.

Volgens De Lilly en Johannes het huishoudelike omstandighede ook ’n groot invloed op hul musiek gehad aangesien hulle eerstehands gesien het hoe vroue in hul gemeenskap mishandel word.

Hulle sê hulle kon sien hoe baie vroue wat mishandel word, skaam en minderwaardig voel en soms die kortste uitweg kies, wat dikwels traumaties vir families en die gemeenskap eindig.

“Ons hoop ons musiek sal vroue motiveer en aanspoor om hul omstandighede te verander sodat hulle kan aanbeweeg. Ons beplan om in die nabye toekoms ’n nuwe musiekvideo op te neem, wat ons hoop ’n positiewe impak sal hê op mans wat vroue mishandel.”

De Lilly en Johannes het die plaaslike musikant Bradley Africa vir sy motivering bedank. “Daar was baie tye wat ons wou opgee, maar dan het Bradley se woorde by ons gespook om nie moed te verloor nie, maar aan te hou om sukses te behaal,” het die duo gesê. “Sy inspirasie en die hulp van Smile Produksies het ons ons eerste mylpaal laat bereik, en ons bedank hulle daarvoor,” vertel die twee trots.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article