Die appels val gewis nie ver van die boom nie . . .
Jameel en Shah-Jehaan de Jongh speel tans die Cravenweek-reeks aan die brand en volg gewis in hul pa, Jaseen, se voetspore. Jaseen was die eerste rugbyspeler uit Atlantis wat in 1994 eers WP Akademie- en toe SA junior kleure verwerf het. Hy is in 1995 in die Fira o.19-span opgeneem om aan die wêreldbeker in Roemenië deel te neem.
Die twee broers het Woensdag (6 Julie) vir die WP o.18-Cravenweekspan geskitter toe hulle drie van die ses drieë in die wedstryd gedruk het vir hul se span se 29-24-oorwinning teen die Sharks. Shah-Jehaan se twee drieë en goeie spel het hom ook die toekenning as speler van die wedstryd besorg.
Shah-Jehaan het reeds in die eerste 10 minute sy eerste drie gedruk, wat verdoel is deur Thurlon Williams vir ’n 7-punt-voorsprong. Briljante spel deur die WP het tot ’n tweede drie gelei en het die span se voorsprong tot 12-0 vergroot.
Die Sharks, wat nooit opgegee het, het die skare op hul voete gehad met uitstekende spel toe Sphakanyiswa Ngcobo ’n hangskop na ’n goeie breek weggestuur het en Litelihle Bester wat dit op die spring bemeester met ’n drie afgerond het om die telling 12-7 te maak (steeds in WP se guns).
WP het egter gou teruggeslaan toe Jean Mars in die hoekie oorgaan en dié drie deur Williams verdoel is (telling: 19-7).
Die manne van Durban het kort voor rustyd ’n verdoelde drie behaal toe Andries Knoetze gedruk het, en die rustydtelling was 19-14 in WP se guns.
Knoetze het die gaping kort ná rustyd tot slegs twee punte laat krimp (19-17) toe hy ’n strafskop suksesvol afgestuur het.
Met die skare wat WP aanmoedig, het Shah-Jehaan sy vaardigheid en spoed met die kantlyn langs gebreek en op skouspelagtige wyse oorgeduik vir sy tweede drie, wat sy span se voorsprong vergroot het. Die skouspelagtige duikslag het die skare behoorlik laat brul van die plesier en ook die oë laat rek.
WP, wat geduldig was, het die Sharks stelselmatig in die laaste 10 min uitgeput om die uitklophou te plant toe die Shah-Jehaan in die regterkantse hoek die WP se sesde drie vir ’n voorsprong van 29-17 gedruk het.
Die Sharks het egter nie gaan lê nie en teruggeslaan om die telling tot vyf punte in die laaste vyf minute laat krimp, maar kon nie die uitklophou plant nie.


