Die Save More-supermark is Sondag 12 Janu­arie deur ses gewapende rowers geteiken.Foto:


Skurke is blykbaar só desperaat dat hulle selfs bereid is om ’n winkel reg onder die polisie se neus te beroof.

Vier rowers is Sondag 12 Januarie gevang nadat polisiebeamptes blitsig gereageer het gedurende ’n rooftog by Save More-supermark naby die polisiekantoor.

Twee van die rowers het met kontant en selfone van die eienaars van die winkel weggekom.

Volgens ’n werker van die winkel het ses mans die winkel voor toemaak­tyd binnegekom. Die werker vertel dat die verdagtes die twee Chinese eienaars vasgebind en die res van die personeel op die grond laat lê terwyl die winkel beroof is. Dié personeellid sê alles het “baie vinnig gebeur”, nadat een van die rowers ’n vuurwapen op die winkel se personeel gerig het.

Een omstander het ná die rooftog gesê die winkel, wat ’n hanetree van die polisiekantoor is, is een van die min winkels wat vir die minderbevoorregte gemeenskap omgee omdat hy bekostigbare pryse het.

Volgens kapt. Cyril Dicks, plaaslike polisiewoordvoerder, sal die vier verdagtes op aanklagte van gewapende roof én besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article