Gewapende rooftogte neem toe, waarsku die Atlantis-polisie.
Kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder sê die rooftogte raak ook meer gewaagd en waarsku sakeondernemings om op die uitkyk en versigtig te wees.
Volgens ’n betroubare bron beplan rowers deeglik en kry ook inligting van binne. Munro sê ’n bekende klerewinkel in die sentrum het onlangs deurgeloop toe twee goedgeklede mans hulle as speurders voorgedoen het.
Volgens die polisie het die twee mans die winkel ingestap en na ’n werker van die winkel gesoek. Die twee “speurders” – met dossier en al – moes glo ’n verklaring by die werker, wat op rusdag was, afneem.
Volgens Munro het die bestuurder van die winkel die twee “speurders” na sy kantoor geneem, waar hy vasgebind is toe hulle ’n vuurwapen uithaal. Die twee het met ongeveer R8 000 en ongeveer 250 selfone laat spat.
Volgens ’n bron het die twee by die agterdeur van die winkel uitgestap en in ’n vermoedelike gesteelde voertuig geklim voordat hulle verdwyn het. Volgens Munro is niemand nog in hegtenis geneem nie.
Kliënte van ’n bekende wegneemeteplek in Avondale het Maandagaand (5 Augustus) ’n rower se planne in die wiele gery toe hy oor die toonbank gespring en geld geëis het.
Die rower, wat ongeduldig was, het met die hele kasregister probeer vlug.
Volgens Munro het kliënte, wat buite in hul motor gewag het, gesien wat aangaan en die rower met hul motor gestamp. Die verdagte is op die toneel deur die kliënte aangekeer en aan die polisie oorhandig. ’n Nagemaakte vuurwapen en ammunisie is by die rower gevind.
Die polisie is ook op soek na drie mans wat ’n 25-jarige man met ’n vuurwapen gedreig en van sy duur selfoon beroof het. Volgens Munro het die slagoffer in Magnoliastraat gestap toe drie mans hom nader en met ’n vuurwapen dreig. Die rowers het met sy selfoon ter waarde van R9 000 gevlug.





