Terwyl inwoners van Riverlands steeds sukkel om te herstel nadat verskeie damwalle meegegee het, het organisasies bymekaargekom en die slagoffers bygestaan.
Die ramp het talle inwoners dakloos gelaat terwyl sommige alles verloor het toe van hul huise weggespoel het.
Riverlands Primêr het die basis geword vir noodlenigingsoperasies, waar lede van die gemeenskap die slagoffers bedien het.
Die drie Rotariërklubs in die omgewing – Atlantis, Malmesbury en Melkbos – het Woensdag 21 Augustus ook die rampgebied besoek om die slagoffers, veral die inwoners wat van die operasionele sentrum afgesny is, by te staan deur hulle met drie viertrekvoertuie te bereik.
Kospakkies, klere, komberse, drinkwater en persoonlikesorgpakkies is aan die slagoffers oorhandig.
Van die slagoffers het gesê dit is vir hulle baie moeilik om by die sentrum uit te kom omdat dit weens die toestande steeds onveilig is om selfs net te loop.
“Ons is baie dankbaar vir die Atlantis-, Malmesbury- en Melkbos-Rotariërklubs wat ons van die basiese benodigdhede kom voorsien het,” het een van die slagoffers, Wynonna Makriege, gesê.
Die Rotariërs is daartoe verbind om ’n wêreld te bevorder waar individue van alle ouderdomme, etnisiteite, rasse, kleure, vermoëns, godsdienste, sosio-ekonomiese status, kulture, geslagte, seksuele oriëntasies en geslagsidentiteite bymekaarkom om blywende verandering te bewerkstellig.
Die Rotariërklubs van Atlantis en Melkbos het die afgelope tien jaar in Atlantis en sy buurstreke saamgewerk om positiewe verandering in die gemeenskappe te bring. Die onlangse insluiting van die nuwe Rotariërklub van Malmesbury by die Rotariërkraal het ’n nuwe dinamika in die Swartland-gebied se pogings gebring.





