Vlnr Jordan Pretorius,Emily Adams,Shaleen Petersen,Desnay Hans, Elrique Snyders(Wiskunde-opvoeder(middel) Januchka Jordaan,Sabereyah Shah,Aquila Johannes en Tajierah Abrahams.Foto: David Rossouw


Agt gr. 8- en gr. 9-leerders van Robinvale Sekondêr het in Desember aan die Regstreekse Wiskunde-olimpiade vir primêre en sekondêre skole deelgeneem.

Volgens Elrique Snyders, ’n wiskunde-onderwyser by die skool, het drie van die agt leerders uit die sowat 180 000 leerders wat deelgeneem het, insluitend leerders van die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State van Amerika, Duitsland, Denemarke, Griekeland en Australië, bo verwagting goed presteer.

Snyders het verduidelik die doelwit was dat al agt minstens brons moet behaal omdat die pandemie onderrig in 2021 en 2022 moeilik gemaak het.

Volgens Snyders was dit die skool se eerste poging om te sien hoe mededingend leerders in vergelyking met ander leerders wêreldwyd is nadat die covid-pandemie die wêreld in 2020-’22 getref het.

Volgens die organisasie Regstreekse Wiskunde-olimpiade is die primêre doelwit om onderwysers en leerders te bemagtig om vernuwende en fisieke maniere te vind om te help om Suid-Afrikaanse wiskundestandaarde te verbeter.

Die doel is om so veel as moontlik leerders aan te moedig om positiewe ervarings met wiskunde te hê sodat hulle wiskunde as vak op hoërskool sal kies.

Volgens die organiseerders bestaan ’n kritieke behoefte in Suid-Afrika aan hoëgehalte hulpbronne en materiaal vir wiskunde-onderwysers.

“Ons is verheug om saam met die Wes-Kaap Onderwysdepartement te werk. Die departement ondersteun nie net ons Olimpiade nie, maar help ook met die verspreiding onder alle Wes-Kaapse skole in ooreenstemming met die Live Math Olimpiade,” sê die organisasie.

Vraestelle is by die olimpiade beskikbaar vir leerders in graad R tot gr. 9. Dit is die wêreld se enigste olimpiade van sy soort.

Volgens Live Math Olympiad is die vrae in die styl van internasionale olimpiade-standaarde opgestel, en die organisasie hoop dat hy ’n paar nuwe idees en onderwerpe sal bekendstel.

Hy hoop ook hoe vroeër leerders aan die pret-kompetisie kan deelneem, hoe groter word die verspreiding van wiskunde-bewustheid.

Volgens die agt leerders was die vraestelle nie net goed gekombineer nie, maar ook uitdagend en lekker.

“Ons is uiters bevoorreg om mnr. Snyders as onderwyser te hê. Wanneer ons hulp nodig gehad het, was hy en die ander onderwysers baie behulpsaam en tegemoet­komend,” het die leerders laat hoor.

Volgens die deelnemers gaan hierdie geleentheid ongetwyfeld hul lewe en opvoeding verander.

Emily Adams (gr. 8), Shaleen Petersen (gr. 9), en Sabereyah Shah (gr. 9) het elk ’n silwermedalje ontvang, terwyl Jordan Pretorius (gr. 8), Januchka Jordaan (gr. 8), Tahjierah Abrahams (gr. 9), Aquilla Johannes (gr. 9) en Desnay Hans (gr. 9) elk ’n bronsmedalje ontvang het.

Snyders is verheug oor sy studente se prestasies omdat hulle nie baie tyd gehad het om voor te berei nie aangesien dit tydens eksamentyd was.

Volgens Snyders was dit ook die eerste keer dat die Olimpiade vir leerders in grade R tot 9 geskryf is.

“Ons sal ongetwyfeld volgende keer beter presteer as ons meer tyd het om voor te berei, maar ek is tevrede met hul vertoning,” het Snyders gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article