Nege plaaslike ringbalspelers het WP-ringbal, voorheen bekend as korfbal, by die nasionale ringbal-toernooi in Pretoria van 3 tot 9 Julie verteenwoordig.
Die toernooi het op ’n hoogtepunt vir Dillon Koert geëindig, wat vir die nasionale o.23-span gekies is.
Volgens Johan van der Berg, voorsitter en afrigter van die Atlantis-ringbalklub, het drie van die plaaslike vroue ook in die WP se o.20-span, wat silwer gewen het, uitgeblink. Hy sê wat die vroue se prestasie so merkwaardig maak, is die feit dat dit hul eerste senior toernooi is aangesien hulle voor Covid nog skoolgegaan het.
“Ek het Dillon sewe jaar gelede by Saxon Sea Primêr begin afrig,” vertel Van der Berg. “Hy is steeds aktief by die klub en besonders toegewyd tot die sport, waar hy sy beste gee.”
Dillon sal in Augustus die SA-span in vertoonwedstryde verteenwoordig.


