Die onlangse swaar reën het duidelik sy merk op paaie gelaat en plaaslike motoriste nie net onkant betrap nie, maar erg ontstel ook.
Plaaslike raadslede is op sosiale media uitgesonder as “nikswerd” en dat hulle nie na inwoners se klagtes luister nie.
Dit is egter van alle waarheid ontbloot, het die raadslede Allister Lightburn en Moosa Raise gesê. Dit was egter ’n kwessie van tyd omdat die provinsiale regering verantwoordelik is vir die herstel van die slaggate op paaie meen hulle. Kommer is daagliks op sosiale media oor die toestand van plaaslike paaie uitgespreek veral omdat baie motoriste skade aan hul voertuie opgedoen het. Volgens Ivan Saville is sy motor twee keer beskadig.
Hy sê dit is veral die ou Mamre/Darling-pad wat die meeste skade aangerig het. Hy vertel tydens een van sy ondervindings op die pad het hy ook ’n metropolisievoertuig gesien wat skade opgedoen het.
Motoriste word aangeraai om ’n eisvorm in te vul om hul skade van die provinsiale regering te verhaal.
Raise het motoriste gemaan om versigtig te wees – veral met herstelwerk wat tans gedoen word – en motoriste gewaarsku oor stop-en-ry-punte wat op dié pad gebruik word.

